Nuus 08:00
BULLETIN 21 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die onwettige mynwerkers in Stilfontein sal nie antiretrovirale middels ondergronds ontvang nie
# Die regering beplan om meer damme te bou vir watersekerheid
# En rugby: Ox Nché is uit en Wilco Louw keer terug vir die Wallis-kragmeting
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het kommer uitgespreek oor die polisie wat antiretrovirale medikasie wil stuur aan onwettige mynwerkers wat ondergronds vasgekeer is in die Stilfontein-myn in Noordwes. Mynwerkers het die polisie versoek om die medisyne te stuur. Die eerste fase om onwettige mynwerkers na die oppervlak te bring, het gister begin. Motsoaledi sê chroniese medisyne kan nie sonder ‘n voorskrif gegee word nie:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, het Suid-Afrikaners verseker die land se water sal nie opraak nie, en het verwys na planne om meer damme te bou. Hy het tydens die beleggingsberaad vir die Next Generation Water-efficient Sanitation Technologies in Johannesburg, gepraat oor die kommer rondom wateruitdagings. Mahlobo sê verouderende infrastruktuur en lekkende pype is geïdentifiseer as sleutelbydraers tot hierdie kwessies:
# Reisigers is gister op die King Phalo-lughawe in Oos-Londen gestrand na hulle vlugte weens swak weer gekanselleer is. Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê sommige vlugte wat geraak is, is na die King Shaka Internasionale Lughawe in Durban en die Dawid Stuurman Internasionale Lughawe in Gqeberha weggewys. ACSA sê die weersomstandighede het ook ander lughawens in sy netwerk geraak, insluitend die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg. King Phalo-lughawe sê volgens weerverslae vir vandag is sigbaarheid goed en geen ontwrigting word verwag nie.
# Republikeine in die Huis se Etiese Komitee het gekeer dat ʼn verslag vrygestel word oor bewerings van seksuele wangedrag teen Matt Gaetz. Hy is verkose president Donald Trump se benoeming vir prokureur-generaal. Die komitee het verskeie bewerings teen Gaetz ondersoek, insluitend dat hy by seksuele wangedrag en onwettige dwelmgebruik betrokke was, en dat hy onbehoorlike geskenke aanvaar het. Hy ontken al die bewerings. Die Demokratiese verteenwoordiger op die komitee, Susan Wild, sê die stemme was volgens party-lyne verdeel:
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het besluit om stut Ox Nché ʼn blaaskans te gee tydens Saterdag se toets teen Wallis in Cardiff. Dit beteken Wilco Louw begin as vaskopstut, terwyl Thomas du Toit na die loskop-posisie verskuif. Vier spelers wat nie op die wedstryddag sal uitdraf nie, is Kwagga Smith, Lukhanyo Am, Andre Esterhuizen en Mokamole Mapimpi wat gister na Suid-Afrika teruggekeer het. Erasmus sê hulle het steeds genoeg diepte in die groep om alle posisies te dek indien beserings voor die wedstryd sou plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-430-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-653-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….