Nuus 07:00
BULLETIN 21 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die NVG sê die stadige vordering met die vervolging van korrupsiesake is te wyte aan vaardigheidstekorte
# ‘n Man van 92 word aangekla van die verkragting en moord op ‘n vrou in 1967
# En rugby: Die Wallis-afrigter bring vier veranderings aan vir hul kragmeting teen die Springbokke
# Die Nasionale Vervolgingsgesag se hoof, Shamila Batohi, sê die gebrek aan gespesialiseerde vaardighede is ‘n groot struikelblok wat vervolgings belemmer, veral in ingewikkelde staatskapingsake. Die Spesiale Ondersoekeenheid het sedert 2018 drie-duisend-320 strafregtelike sake na die NVG verwys, wat een-duisend-162 bedrog-oortredings insluit. Daar is 37 sake uit die staatskapingsondersoek in die hof. Batohi het aan die Parlement gesê alhoewel die Ondersoekeenheid se identifisering van prima facie-bewyse van korrupsie, en verwysing na die NVG noodsaaklik is, is dit nie genoeg om dié wat betrek word te vervolg nie.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa doen mondelinge voorleggings aan die energiereguleerder, Nersa, na aanleiding van Eskom se aansoek om tariefverhogings. Die vakbond verwerp Eskom se voorgestelde verhoging in inkomste wat sal lei tot tariefverhogings van tot 36-persent vir verbruikers in 2026. Numsa se nasionale woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die verhogings sal die ekonomiese krisis vererger en lei tot nog afleggings, de-industrialisasie en die sluiting van sakeondernemings:
# KwaZulu-Natal se premier, Thamsanqa Ntuli, sê dis belangrik dat onwettige aktiwiteite aangespreek word wat voedselveiligheid-regulasies ondermyn en lewens in gevaar stel. Die polisie in Durban het toegeslaan op vier pakhuise waar hulle ingevoerde kos ontdek het wat reeds verval het. Dit kom te midde van die land se stryd teen ʼn uitbreking van voedseloordraagbare siektes. Drie-en-twintig kinders is dood nadat hulle vermoedelik besmette kos geëet het wat by spazawinkels gekoop is. Ntuli sê die klopjagte is ʼn keerpunt in die provinsie se stryd teen misdaad:
# Die Stad Tshwane raai inwoners en ondernemings wat agterstallig is aan om hul rekeninge teen 29 November 2024 te vereffen om ‘n afslag van 100-persent op renteheffings te ontvang. Die Swart Vrydag Spesiale Aanbod is geldig van 19 tot 29 November en is van toepassing op mense wat hul munisipale rekeninge ten volle vereffen. Die stad se skuld het in Oktober 2024 altesaam 27,8-miljard-rand beloop, waarvan 26-miljard-rand agterstallig is. Inwoners kan munisipale kantore besoek of per e-pos navraag doen vir meer inligting.
# ‘n Twee-en-negentigjarige man het in Bristol, Engeland, in die hof verskyn in verband met die moord en verkragting van ‘n vrou in 1967. Ryland Headley van Ipswitch is vroeër die week in hegtenis geneem na ‘n forensiese hersiening van die saak. Die 75-jarige Louisa Dunne se bure het haar in Junie 1967 dood aangetref in haar huis in Easton. Sy is verkrag en verwurg. Headley het nie gepleit op die twee aanklagte teen hom nie, en die saak kom vandag in die Hooggeregshof in Bristol voor.
# Rugby: Wallis se afrigter, Warren Gatland, het vier veranderinge aangebring aan sy beginspan wat Saterdag in Cardiff teen die wêreldkampioene van Suid-Afrika kragte meet. Sam Costelow begin op losskakel, Blair Murray skuif van vleuel na heelagter, vleuel Rio Dyer keer terug terwyl die slot, Christ Tshiunza, die beseerde Adam Beard vervang. Gatland, wie se span ʼn rekord van elf agtereenvolgende toetsnederlae gely het, sê hy wil baie graag voortgaan as hoofafrigter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-555-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-657-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….