Nuus 06:00
BULLETIN 21 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF veroordeel Prasa se nalatigheid wat tot ‘n verlies van miljarde lei
# Krieket: Die Protea-afrigter glo hulle kan die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap haal
# En Mej. SA verduidelik haar onttrekking aan Mej. Heelal
# Die EFF sê die ineenstorting van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika is ‘n regstreekse aanslag op die werkersklas en armes, wat op bekostigbare vervoer staatmaak. ’n Hooggeregshofverslag het bevind nalatigheid in die spooragentskap se geïntegreerde veiligheidsprojek het tot wydverspreide diefstal en vandalisme gelei met ‘n verlies van 5,1-miljard-rand. Prasa het in die 2022/2023-boekjaar 3,8-miljard-rand se onreëlmatige uitgawes gehad. Die EFF sê daar is geen politieke wil binne die ANC en die regering van nasionale eenheid om enige van die ongeregtighede by Prasa reg te stel nie.
# ActionSA doen ‘n beroep op die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, om die rentekoers met 50 basispunte te verlaag tydens die Monetêre Beleidskomiteevergadering. Dit volg nadat die jongste inflasiedata ‘n daling tot 2,8-persent in Oktober getoon het, die vyfde agtereenvolgende daling. Die party waarsku die finansiële nood duur voort, en meer as 35-miljard-rand is aan pensioene onttrek. Alan Beesley van ActionSA sê lae groei in bruto binnelandse produk en moontlike Eskom-tariefverhogings is groot bekommernisse:
# AfriForum sê Tshwane word deur ‘n moontlike afvalbestuurskrisis bedreig. Hulle sê die sluiting van die Onderstepoort-stortingsterrein in 2019 het die situasie vererger. Die burgerregte-organisasie vergroot sy herwinningspogings en is gereed om saam met die metro en belanghebbendes na volhoubare oplossings te soek. AfriForum-woordvoerder Lambert de Klerk vra vir onmiddellike optrede, insluitend planne vir nuwe terreine en verbetering van kapasiteit:
# Minstens 50 Boko Haram-vegters is dood en sewe lede van Nigerië se infrastruktuur-veiligheidsmag word vermis ná ‘n rebelle-lokval uitgevoer is op ‘n konvooi wat die land se kragnetwerkinstallasies monitor. Veiligheidsbeamptes is tydens die patrollie deur sowat 200 Boko Haram-vegters oorval. Volgens Reuters word daar na die vermistes gesoek. Boko Haram is hoofsaaklik in die noordooste bedrywig, maar het ook faksies in die hoofsaaklik Moslemstaat Niger, waar die weermag en burgerlikes voorheen aangeval is.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê hulle mik na die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap. Suid-Afrika is tans in die vyfde plek op die punteleer en speel van Woensdag in Durban teen Sri Lanka in die eerste van twee toetse. Die besoekers is tans derde na Australië en Indië, met Nieu-Seeland vierde. Conrad sê hoewel Sri Lanka ‘n baie goeie span is, weet die Proteas hulle het ‘n goeie kans om te wen as hulle volgens hul vermoëns speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-116-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-11-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, het die sluier gelig oor haar onttrekking aan die 73ste Mej. Heelal-kompetisie in Mexiko. Sy sê sy ly aan erge vertigo. Dis ‘n sensasie van in die rondte spin terwyl dit glad nie gebeur nie. Die 28-jarige het verlede Donderdag tydens die voorlopige kompetisie onttrek oor gesondheidsprobleme. In ‘n video wat sy op Instagram gedeel het, sê Le Roux terwyl sy geestelik sterk genoeg was om mee te ding, was haar liggaam gespanne:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….