Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu bepleit aggressiewe rentekoersverlagings om werkers se finansiële spanning te verlig
# Binnelandse Sake dank 18 amptenare af weens bedrog, korrupsie en teistering
# En, rugby: ‘n Wallabie-senter word vir drie wedstryde geskors vir ‘n gevaarlike duikslag op Wallis se kaptein
# Cosatu vra die Suid-Afrikaanse Reserwebank vir ‘n groter as verwagte terugkoopkoers-verlaging om die finansiële druk op werkers te help verlig. Inflasie het in Oktober ‘n afname tot 2,8-persent getoon en die federasie glo daarom ‘n meer beduidende koersverlaging, selfs meer as die verwagte 25 basispunte, word benodig om die las op huishoudings met oormatige skuld te verlig. Zanele Sabela van Cosatu sê hoë rentekoerse het werkers gedwing om te besnoei op noodsaaklikhede soos kos:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa is besorg oor Eskom se stygende steenkoolkoste wat vanaf 2014 tot verlede jaar met 25-miljard-rand toegeneem het. Die vakbond verwerp ‘n verhoging van 35-miljard-rand in Eskom se energiekoste en beskryf die verhoging van 30-persent in steenkoolkoste as ongeregverdig. Eskom se afhanklikheid van duur steenkoolkontrakte, insluitend ‘n prysverhoging van 104-persent vir Seriti Resources, was ‘n sleutelkwessie tydens die tariefverhoor. Numsa voer aan die wanbestuur by Eskom asook stygende munisipale skuld bewys elektrisiteit is reeds onbekostigbaar vir Suid-Afrikaners.
# Die Departement van Binnelandse Sake het 18 amptenare afgedank vir verskeie oortredings, insluitend bedrog, korrupsie en seksuele teistering. Hierdie amptenare was betrokke by kwessies soos die toekenning van vals identiteitsdokumente, onwettige huweliksregistrasies en onbehoorlike visumgoedkeurings. Vier ander het waarskuwings ontvang. Minister Leon Schreiber sê hierdie optrede weerspieël die departement se voortdurende onderdrukking van korrupsie en strafregtelike klagtes sal volg waar nodig:
# Die gevange Hongkongse mediamagnaat, Jimmy Lai, het vandag die eerste keer in die getuiebank verskyn in sy verhoor oor samespanning met buitelandse magte en hou vol sy koerant het gestaan vir demokrasie en vryheid. Sy saak is een van die mees prominente vervolgings volgens nasionale veiligheidswetgewing wat Beijing in 2020 ingestel het, terwyl Westerse lande en regtegroepe sy vrylating eis. Die 76-jarige stigter van die poniekoerant, Apple Daily, word daarvan aangekla dat hy met buitelandse magte geheul het. Hy kan lewenslank tronk toe gestuur word.
# Rugby: Die Wallabie-senter Samu Kerevi se Europese toer is verby nadat hy vir drie wedstryde geskors is vir sy gevaarlike duikslag op die Walliese kaptein, Jac Morgan, tydens die afgelope naweek se toets in Cardiff. Kerevi is in sy 50ste toets vir Australië met ‘n geelkaart afgestuur wat later verander is na rooi. ʼn Onafhanklike tugkomitee het die rooikaart bekragtig en ʼn skorsing van ses wedstryde opgelê wat gehalveer is weens versagtende omstandighede. Die Wallabies speel hierdie naweek teen Skotland en ʼn week later teen Ierland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-269-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-636-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….