Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra belastingverligting vir kwesbare burgers nadat inflasie tot 2,8-persent daal
# Amerika sluit sy ambassade in Kiëf ná ‘n waarskuwing oor ‘n groot lugaanval
# En, sokker: Die Suid-Afrikaanse legende Lucas Moripe sterf
# Die DA verwelkom die jongste inflasiesyfer wat in Oktober tot 2,8-persent gedaal het, en noem dit ‘n teken van ekonomiese bestendigheid. Die party sê egter talle lae-inkomste burgers sukkel steeds met hoë pryse. Die party versoek die Tesourie om geteikende belastingverligtings-maatreëls in te stel, insluitend die uitbreiding van die lys voedselitems wat van BTW vrygestel is. Wendy Alexander van die DA glo dit sal die finansiële las op kwesbare huishoudings verlig, armoede verminder en gesinne help om koste meer doeltreffend te bestuur:
# Die Ouditeur-Generaal het ‘n ooreenkoms van twee-miljard-rand tussen Suid-Afrika en Kuba, Projek Thusano, uitgewys vir swak uitkomste. Die projek sou 108 studente in mediese beroepe oplei. Die kwalifikasies in die program word egter nie in Suid-Afrika geakkrediteer nie en studente is gevolglik werkloos. Volgens News24 het slegs 28,57-persent van die eerste groep hul integrasiekursus geslaag, en afgestudeerdes in bio-mediese ingenieurswese kan nie plaaslik registreer nie. Aanbevelings sluit in hersiening van akkreditasie en samewerking met die Departement van Gesondheid om die waarde van opleiding te verseker.
# Die vakbond Giwusa het dit verwelkom dat ‘n span kenners in mynredding by ‘n verlate goudmyn in Stilfontein, Noordwes, ontplooi is met die doel om tientalle onwettige mynwerkers uit die myn te verwyder. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê al die betrokkenes verstaan die ingewikkeldheid en dringendheid van die situasie:
# Amerika het sy ambassade in die Oekraïnse hoofstad, Kiëf, tydelik gesluit ná inligting rakende ‘n potensiële groot lugaanval vandag. Die ambassade het Amerikaanse burgers ook gevra om onmiddelik skuiling te soek indien ‘n lugwaarskuwing aangekondig word. Dit volg enkele dae nadat die Biden-administrasie aangekondig het hy sal toelaat dat Oekraïne Amerikaans-vervaardigde missiele teen Rusland afvuur. Oekraïne se lugverdedigingseenhede het glo vroeg vanoggend probeer om ‘n Russiese lugaanval op Kiëf af te weer. Die Oekraïense Weermag sê hy het 56 van 122 hommeltuie afgeskiet.
# Sokker: Die sokkergemeenskap betreur die dood van die voormalige voorspeler van Orlando Pirates, Lucas Moripe. Die 71-jarige legende, wie se bynaam ‘Masterpieces’ was, is in sy huis in Atteridgeville oorlede. Hy was die laaste jare aan ‘n rolstoel gebonde na ʼn beroerte. Moripe was ʼn pionier in Suid-Afrikaanse sokker en word oor die algemeen beskou as een van Suid-Afrika se beste spelers. Hy het tydens die goue era van Suid-Afrikaanse sokker in die 1970’s bekend geword. Die Atteridgeville Super-stadion is in 2010 hernoem na die Lucas Masterpieces Moripe-stadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-119-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-622-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….