Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die publiek word versoek om nie die registrasieproses van spazawinkels te ontwrig nie
# Motorsport: Lando Norris glo McLaren kan steeds albei Formule Een-kampioenskappe wen
# En, verbruikers word gewaarsku om nie meegevoer te raak in die opbou tot Swart Vrydag nie
# Die regering vra die publiek om nie die registrasieproses van spazawinkels en ander klein- en medium ondernemings te ontwrig deur sekere eienaars te verhoed om te registreer nie. Alle spazawinkels en plekke wat kos hanteer moet binne 21 dae by hulle munisipaliteite registreer. Dit is een van die ingrypings wat ingestel is om ‘n oplossing te vind vir die vlaag voedselvergiftigingsvoorvalle en handel in onwettige goedere. Foster Mohale van die Gesondheidsdepartement sê die regering sal alles moontlik doen om sake-eienaars te help:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het Build One South Africa se amptelike versoek verwerp vir ‘n parlementêre debat oor die land se werkloosheidskrisis. Sy beskou die kwessie nie as dringend genoeg om dadelik daaraan aandag te gee nie. BOSA se waarnemende woordvoerder, Roger Solomons, sê die besluit raak die elf-miljoen werklose landsburgers. Hy sê werkloosheid is ʼn nasionale krisis:
# Amerikaanse antitrust-amptenare van die Departement van Justisie versoek ‘n regter om Google se verkoop van sy Chrome-webblaaier te beveel, weens vrae oor monopolieë. Dit volg op ʼn beslissing in Augustus dat Google die soekenjinmark onwettig oorheers het. Business Insider sê indien die voorstel goedgekeur word, sal dit die aanlyn soek- en kunsmatige intelligensie-bedryf hervorm. Amptenare bepleit ook strenger regulasies vir Google se datapraktyke en Android-integrasie. Google is erg ontevrede met die besluit en waarsku oor skade aan vernuwing. ’n Finale besluit word teen Augustus volgende jaar verwag.
# Motorsport: Die Britse Formule Een-renjaer Lando Norris sê McLaren kan steeds die dubbele titels van beste renjaer en vervaardiger wen. Daar is nog drie wedrenne oor – in Las Vegas, Katar en Abu Dhabi – en Max Verstappen van Red Bull het ‘n voorsprong van 62 punte bo Norris. In die vervaardiger-kampioenskap het McLaren ‘n voorsprong van 36 punte oor Ferrari, met Red Bull nog 13 punte agter. Norris sê almal is begeesterd om vir albei kampioenskappe te baklei.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-112-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-622-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Verbruikers word gewaarsku om bedag te wees vir die verskeidenheid bemarkingslagysters wat vir Swart Vrydag gestel word, veral deur lokvalbemarking. BankServ Afrika sê hul 3D-Secure-diens het verlede jaar 1,4-miljoen Swart Vrydag-transaksies ten bedrae van 1,39-miljard-rand aangeteken. Die programleier van MANCOSA se Skool van Staatsadministrasie, Nestene Botha, sê verbruikers moet versigtig wees om nie in die opbou meegevoer te word nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….