Nuus 11:00
BULLETIN 20 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie weerhou fondse aan munisipaliteite wat geld aan waterrade skuld
# Donald Trump gaan voort om sy getroue ondersteuners te kies vir die senior rolle in sy kabinet
# En motorsport: Norris glo McLaren kan steeds albei Formule Een-kampioenskappe wen
# Die Nasionale Tesourie gaan vyf munisipaliteite se voorwaardelike toelaes weerhou weens hul onbetaalde skuld aan waterrade. Munisipale skuld aan waterrade staan op 23,7-miljard-rand. Matjhabeng en Kopanong in die Vrystaat skuld die Vaal Sentraal-waterraad saam 7,8-miljard-rand. Die ander munisipaliteite is Thabazimbi in Limpopo, Merafong City in Gauteng, en Victor Khanye in Mpumalanga. Die Tesourie sê die befondsing sal slegs oorgedra word wanneer munisipaliteite reëlings tref om hul skuld aan waterrade te vereffen.
# Rise Mzansi sê die swak toestand van openbare hospitale en klinieke is ‘n groot struikelblok vir die sukses van die Nasionale Gesondheidsversekering. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het op ‘n parlementêre vraag onthul slegs 39,6-persent van openbare gesondheidsorginstellings voldoen aan die vereiste standaarde. Rise Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, glo onderbefondsing, korrupsie, swak bestuur en onbevredigende werksomstandighede vir gesondheidsorgwerkers moet aandag kry voordat die NGV suksesvol kan wees:
# ActionSA gee die Stad Tshwane se DA-geleide administrasie die skuld vir vertragings met die lewering van skoon water aan Hammanskraal. Die party sê die gewese burgemeester, Cilliers Brink, kon nie daarin slaag om waterstelsels voor te berei nie, wat pogings bemoeilik om skoon water te verskaf. ActionSA sê die eerste fase van die nuwe Magalies-water-Klipdrift-suiweringsaanleg is die naweek bekend gestel, maar ou pype moet nog gespoel en getoets word. Woordvoerder Michael Beaumont beskuldig Brink daarvan dat hy politieke retoriek inspan en nie help om die krisis op te los nie.
# World Wrestling Entertainment se medestigter, Linda McMahon, en Cantor Fitzgerald se uitvoerende hoof, Howard Lutnick, is die Amerikaanse verkose president, Donald Trump, se jongste keuses vir sy kabinet. McMahon, wat ook Trump se oorgang-medevoorsitter is, is benoem as minister van Onderwys. Lutnick is Trump se keuse vir minister van Handel. Trump het die Onderwysdepartement gekritiseer en beloof om dit te sluit, en dit sal moontlik nou McMahon se werk wees. Al Trump se benoemdes moet deur die Senaat goedgekeur word.
# Motorsport: Die Britse Formule Een-renjaer Lando Norris sê McLaren kan steeds die dubbele titels van beste renjaer en vervaardiger wen. Daar is nog drie wedrenne oor – in Las Vegas, Katar en Abu Dhabi – en Max Verstappen van Red Bull het ‘n voorsprong van 62 punte bo Norris. In die vervaardiger-kampioenskap het McLaren ‘n voorsprong van 36 punte oor Ferrari, met Red Bull nog 13 punte agter. Norris sê almal is begeesterd om vir albei kampioenskappe te baklei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-446-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….