Nuus 09:00
BULLETIN 20 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê Nersa se tariefverhoging sal lae-inkomste huishoudings en klein sakeondernemings knou
# Gauteng se LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling erken gebreke in die befondsingsproses van nie-winsgewende organisasies
# En Dokters Sonder Grense staak sy bedrywighede in Haïti se hoofstad
# Build One South Africa sê Eskom se voorgestelde 36-persent elektrisiteitstariefverhoging kan lae-inkomste huishoudings dwing om onveilige energie-alternatiewe aan te wend en hul gesondheid en veiligheid in gevaar stel. Die party het verteenwoordigers ontplooi na die energiereguleerder, Nersa, se openbare sittings landwyd om hul teenkanting teen die verhoging uit te spreek. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, voer aan die tariefverhoging sal ongelykheid vererger en die voortbestaan van klein ondernemings bedreig:
Die GOOD-party sê intussen dit is onregverdig om verbruikers te vra om meer te betaal sonder om aandag te skenk aan die hele stelsel se ondoeltreffendhede. Die Nasionale Energiereguleerder hou landwyd openbare sittings oor Eskom se aansoek om kragtariewe met 36-persent te verhoog. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê ‘n kombinasie van Eskom se onvermoë om sy werksaamhede te bestuur, Nersa se versuim om die kragnutsmaatskappy by te staan en ongereguleerde munisipale heffings plaas elektrisiteitsverskaffing in Suid-Afrika strydig met die strewe van die ontwikkelende staat:
# Die DA sê hy is reg bewys nadat Gauteng se LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Faith Mazibuko, erken het daar is gebreke in die finansieringsproses van organisasies sonder winsoogmerk in die provinsie. Die party het voorheen gewys op onreëlmatighede in die verdeling van befondsing, wat volgens hulle tot vertragings en wanbestuur lei. DA-woordvoerder, Refiloe Nt’sekhe, vra vir verbeterde deursigtigheid en aanspreeklikheid in die befondsingsproses om te verseker organisasies sonder winsoogmerk ontvang die ondersteuning waarop hulle geregtig is:
# Dokters Sonder Grense het sy aktiwiteite in Haïti se hoofstad, Port-au-Prince, tot verdere kennisgewing opgeskort. Dit volg ná ‘n dodelike aanval op een van sy ambulanse verlede week waarin twee pasiënte doodgeskiet is. ʼn Noodtoestand geld sedert Maart in Haïti se hoofstad nadat bendes groot dele van die stad met geweld oorgeneem het. Dokters Sonder Grense wat reeds drie dekades in die land teenwoordig is, sê elke dag wat hul aktiwiteite nie kan voortgaan nie, is ʼn tragedie.
# Sokker: Manchester City se bestuurder, Pep Guardiola, het volgens berigte ingestem dat sy kontrak met een jaar verleng word, met die opsie dat dit tot 2027 kan duur. Die 53-jarige afrigter se huidige kontrak verstryk die einde van die seisoen. Die Spanjaard wat in 2016 by City aangesluit het, het 18 trofeë gewen wat ses Premierliga-titels en die Kampioeneliga insluit. Guardiola het City gehelp om slegs die tweede Engelse manspan ná Manchester United te word om die Treble, die Premierliga, FA-beker en Kampioeneliga in dieselfde seisoen te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-315-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-637-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….