Nuus 08:00
BULLETIN 20 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Skoor is bekommerd oor die Departement van Verdediging se oudit
# Donald Trump kies ‘n bekende TV-dokter as hoof van Medicaid
# En tennis: Dit is die einde van ‘n era met Rafael Nadal wat die baan verlaat
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge het besluit om die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, te ontbied om antwoorde te verskaf op kwessies wat uit die departement se oudit van die 2023/2024-boekjaar spruit. Die Ouditeur-Generaal het Skoor ingelig oor die departement en Denel se oudits. Skoor se voorsitter, Songezo Zibi, sê hulle is veral bekommerd oor die rits wesenlike ongerymdhede waarin senior amptenare versuim het om mense aanspreeklik te hou vir óf wanadministrasie en wangedrag, óf die versuim om prestasiedoelwitte te haal:
# Die EFF sê die ANC-regering het deur sy ondoeltreffende beleid en gebrek aan hulpbronne vir skuilings, berading en regshulp versuim om vroue te beskerm. Die party het gereageer op bevindings deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing se eerste landwye studie oor geslagsgeweld. Die ondersoek bevestig dat 35,5-persent vroue van 18 jaar en ouer in hul leeftyd fisieke of seksuele geweld ondervind het. Die EFF sê die bevindings lê die werklikheid van geweld bloot waarmee vroue daagliks in Suid-Afrika saamleef.
# Die Gautengse regering het streng regulasies uiteengesit vir buitelandse burgers wat ‘n spazawinkel wil bedryf. Die LUR vir Finansies, Lebogang Maile, het ‘n geldige permit van Binnelandse Sake en die nakoming van arbeidswette beklemtoon. Die maatreëls het ten doel om wettige bedrywighede te verseker en regulasies in die township-ekonomie te verbeter. Maile het plaaslike inwoners gewaarsku teen die registrasie van ondernemings vir buitelandse burgers en beklemtoon die behoefte aan voldoeningsdata wat akkuraat is:
# Amerika se verkose president Donald Trump het die televisiepersoonlikheid en kardio-torakale chirurg, Mehmet Oz, aangewys as administrateur van die Centres for Medicare and Medicaid Services. Hierdie federale agentskap hou toesig oor gesondheidsversekeringsdekking vir meer as 150 miljoen Amerikaners. Die agentskap reguleer gesondheidsversekering en stel beleide op as riglyne vir dit wat dokters, hospitale en medisynemaatskappye betaal word vir mediese dienste. Trump sê hy is vol vertroue Oz sal baklei om seker te maak almal in Amerika ontvang die beste mediese sorg.
# Tennis: Rafael Nadal se roemryke loopbaan het tot ‘n einde gekom nadat Spanje in die Davisbeker-eindtoernooi in Malaga teen Nederland verloor het. Botic van de Zandschulp het die 22-malige Grand Slam-kampioen verslaan om Nederland ʼn een-nul-voorsprong te gee. Carlos Alcaraz het sake vir Spanje gelykop gemaak met ʼn sege oor Tallon Griekspoor. Wesley Koolhof en Van de Zandschulp het egter in die bepalende dubbelspel met Alcaraz en Marcel Granollers afgereken. Nadal sê hy het meer bereik as waarvan hy ooit gedroom het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-151-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-639-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….