Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van Coronation Fund Managers, Anton Pillay sê daar is ‘n behoefte aan die konsolidasie van fondsbestuurders aangesien hoë koste en kwynende beskikbare fondse die mededingendheid van kleiner fondsbestuurders ondergrawe.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ’n prokureur van die Society for the Protection of Our Constitution, Yasmin Omar sê die situasie by die Stilfontein-myn kan erger uitdraai as die Marikana-slagting. Die vereniging staan staatsoptrede teen in die Hooggeregshof in Pretoria.
Tweedens skryf die koerant oor die haglike omstandighede by die Johannesburgse Kunsgalery
En laastens is daar waardevolle nuus oor die herkodering van kragmeters.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die staat beweer die Stilfontein-mynwerkers is nie vasgekeer in die myn nie, hulle skuil daar.
En tweedens word berig die gemeenskap versoek dat vat-en-sit-verhoudings wat op informele saamwoon neerkom voor die reg erken moet word.
# Sowetan:
Berig die mense van Soweto is gefrustreerd om na die nuwe stelsel vir kragmeters oor te skakel, en slaap snags voor die Eskom-kantoor om die lang toue vry te spring.
# En The Citizen:
Skryf die Teddy Bear-stigting sê slegs vier-persent van seksuele aanrandingsake op kinders is die afgelope vyf jaar vervolg.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Kleinjan le Grange en Rudi Gericke is elk tor drie en ‘n half jaar tronkstraf gevonnis vir aanranding en saakbeskadiging by die Ficksburg-gholfklub in 2022.
En tweedens skryf die koerant die driejarige seuntjie van Winburg wie se liggaam in ‘n swart sak gevind is, is vermoedelik opsetlik verdrink.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die 14-jarige Grantham Jahmiel van Reenen van Ravensmead wat voor sy pa op pad skool toe doodgeskiet is in bende-kruisvuur. Nog twee leerders is gewond.
En tweedens is daar nuus oor SA Rugby se ooreenkoms met die Amerikaanse Ackerley Sports Group. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê hy is oortuig die partye sal tot ‘n vergelyk kan kom.
# En Cape Times:
Skryf die veiligheid by Kaapse skole word opgeskerp nadat Van Reenen gister doodgeskiet is.
En berig daar is kommer oor kos waarvan die raklewe verstryk het en wat op vullishope beland.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit wil een van sy donkerste hoofstukke afsluit. Ná ses jaar word aanbeveel dat geen verdere optrede nodig is oor die stad se mislukte rioolskoonmaakprojek van 21-miljoen-rand nie.
En tweedens skryf die koerant die slangseisoen het aangebreek in die Baai en daar is reeds talle giftige slange uit woongebiede verwyder.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf op die beraad oor kontruksie-mafias is die euwel uitgewys as Suid-Afrika se nommer een vyand. Die hulp van die polisie se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad is ingeroep.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se nuwe groenwaterstofbedryf benodig reusebeleggings oor die volgende ses jaar tot 2030 en sal ongelooflike opbrengste bied.
Dan skryf die koerant drie gewapende vermeende stropers is Saterdag tydens ’n skermutseling met lede van die teenstropingseenheid in die Etosha Nasionale Park doodgeskiet.
En laastens is daar nuus oor ’n gemeenskapsaktivis in Okahandja wat ’n veldtog voer om ernstige wanvoeding onder kinders hok te slaan.