Nuus 07:00
BULLETIN 20 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê drie hoëvlakprioriteite sal tydens Suid-Afrika se G20-presidentskap bevorder word
# ‘n Onderwysaktivis veroordeel die moord op ’n 14-jarige leerder in Kaapstad
# En sokker: Bafana Bafana eindig hul Afcon kwalifiserende veldtog met ‘n kragdadige oorwinning
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika onderneem om die G20 se werk te bevorder om groter wêreldwye ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling te bewerkstellig. Hy het in Rio de Janeiro deelgeneem aan die seremonie waar Brasilië die G20-presidentskap aan Suid-Afrika oorhandig. Die G20 bestaan uit 19 lande en twee liggame: die Afrika-unie en die Europese Unie. Ramaphosa sê Suid-Afrika se G20-presidentskap sal drie hoëvlakprioriteite bevorder: inklusiewe ekonomiese groei en ongelykheid, voedselsekerheid en Kunsmatige Intelligensie:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê ‘n omsendbrief oor voorvalle van voedselvergiftiging is uitgestuur en dien as riglyn oor kosverkope vir skole, verkopers en gemeenskappe. Die provinsie het meer as 400 gevalle van voedselvergiftiging en 23 sterftes aangemeld. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê snoepies, verkopers en handelaars mag op skoolterreine handel dryf mits hulle spesifieke vereistes en regulasies nakom:
# Die onderwys-aktivis, Hendrick Makaneta het ‘n beroep gedoen vir dringende optrede deur die regering en die polisie om die groeiende geweld in Kaapstad se hoërisikogebiede aan te pak. Die pleidooi volg ná die moord op ‘n 14-jarige graad agt-leerder van die Hoërskool Ravensmead in Elsiesrivier. Minstens twee ander leerders is gewond. Makaneta het ‘n beroep gedoen vir strenger maatreëls om leerders te beskerm teen die geweld wat hulle gemeenskappe raak:
# Human Rights Watch het die vonnisoplegging van 45 pro-demokrasie-aktiviste in Hongkong gekritiseer. Hulle is ná die stad se grootste nasionale sekerheidsverhoor skuldig bevind aan sameswering tot ondermyning. ʼn Hof het die vonnisse Dinsdag opgelê. Dit wissel van vier tot tien jaar vir aktiviste, voormalige wetgewers, raadslede en akademici wat betrokke was by ʼn plan om opposisiekandidate vir plaaslike verkiesings aan te wys. Human Rights Watch sê die vonnisse weerspieël hoe vinnig Hongkong se burgerlike vryhede en regsonafhanklikheid die afgelope vier jaar vernietig is.
# Sokker: Bafana Bafana het Suid-Soedan met drie-nul verslaan in hul laaste 2025-Afrikabeker-kwalifiserende wedstryd by die Kaapstad Stadion. Doele deur Iqraam Rayners, Patrick Maswanganyi en Teboho Mokoena het Suid-Afrika eerste geplaas in Groep K, ná mede-kwalifiseerders, Uganda. Bafana Bafana, wat nou met sestien agtereenvolgende oorwinnings onder afrigter Hugo Broos spog, sal een van die gekeurde spanne wees wat deurdring na die Afcon-kompetisie wat volgende jaar in Marokko plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-994-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-639-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die mausoleum met die enkele oorblyfsel van die oorskot van die vurige held van die Demokratiese Republiek die Kongo, Patrice Lumumba, is beskadig. Al wat oorgebly het was ʼn tand van die anti-kolonialistiese ikoon en eerste premier nadat die land in 1960 onafhanklikheid van België verkry het. Die minister van Kultuur, Yolande Elebe, kon nie bevestig of die tand, ‘n aandenking, gesteel is nie. België het die tand in 2022 teruggegee en dit is begrawe tydens ‘n plegtige seremonie wat deur president Felix Tshisekedi bygewoon is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….