Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa kondig ‘n belegging van 4,7-miljard-rand in batterybergingsprojekte aan
# Britse boere betoog in Londen oor wysigings aan boedelbelasting
# En, rugby: Die minister van Sport dring daarop aan SA Rugby se aandeletransaksie moet Suid-Afrikaners insluit
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het ‘n belegging ter waarde van 4,7-miljard-rand in twee nuwe kragnetwerk-battery-energiebergingsprojekte aangekondig. Die persele, geleë in die Noord-Kaap, sal onderskeidelik 180-megawatt en 720-megawatt-ure by die nasionale netwerk voeg. EDF International in Frankryk en vennote het die projekte ontwikkel en dit sal na verwagting binne 24-maande voltooi wees, met energie wat teen November 2026 aanlyn sal wees. Die belegging sal byna 500 werksgeleenthede skep en meer as 430-miljoen-rand bydra tot vaardigheidsontwikkeling en maatskaplik-ekonomiese projekte in plaaslike gemeenskappe.
# Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, onderneem om sterk op te tree teen die boubedryf-mafia wat ontwrigting op boupersele veroorsaak. Die minister lei die nasionale boubedryf-beraad in Durban wat handel oor ontwrigtings en geweld op persele, en om vertragings met projekte weens misdadigheid, te verminder. Macpherson bepleit ‘n gesamentlike poging deur die regering, die privaat sektor en die polisie om orde te herstel sodat projekte sonder die bedreiging van afpersing kan voortgaan:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het eienaars van spazawinkels gevra om binne 21-dae te registreer soos president Cyril Ramaphosa gelas het. Waarnemende kommissaris Hardin Rasthisusu het op nie-voldoening gewys tydens inspeksies na voorvalle van voedselvergiftiging wat tot die dood van leerders gelei het, terwyl ander in hospitale opgeneem is. Ratshisusu het aan die SABC gesê die Wet op Verbruikersbeskerming verhoed die verkoop van onveilige goedere, en vra winkeleienaars moet voorkeur gee aan openbare veiligheid:
# Britse boere het opgeruk na Londen om te betoog teen die regering se omstrede planne om die boedelbelastingreëls vir grondbesit te wysig. Hulle beweer dit bedreig die sektor en sal voedselproduksie benadeel. Boerdery-ondernemings het voorheen gekwalifiseer vir 100-persent boedelbelasting-verligting op landbou- en sake-eiendom, wat die boere en grondeienaars se bedrae verminder wanneer landbougrond na afloop van ‘n dood oorgedra word. Vanaf 6 April 2026 sal algehele vrystelling van sterfte-regte egter slegs van toepassing wees op die eerste 23-miljoen-rand in gekombineerde landbou- en sake-eiendom.
# Rugby: Die minister van Sport, Gayton McKenzie, dring aan op plaaslike betrokkenheid by die voorgestelde aandeletransaksie tussen SA Rugby en die Ackerley-sportgroep ter waarde van 1,3-miljard-rand. Hy het na die vergadering van SA Rugby se presidentsraad benadruk Suid-Afrikaners, insluitend voormalige spelers, moet deel in die belang. Die transaksie behels ʼn aandelebelang van 20-persent, maar unies is gekant teen die struktuur. McKenzie verwelkom buitelandse belangstelling, maar versoek erkenning vir plaaslike bydraes. Die allerbelangrike stemming vind op 6 Desember plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-554-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-635-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….