Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Planne word beraam om die Mosselbaaise hawe in die Wes-Kaap te vergroot om groter passassierskepe van tot 300-meter te kan hanteer. Die huidige opset vereis dat vaartuie in die baai moet vasmeer, wat toeriste se toegang tot die dorp belemmer tydens gure weer. ‘n Sleutel-vergadering met belanghebbendes word hierdie week gehou om langtermyn-ontwikkelingsplanne te finaliseer. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die verbeterings is deel van groter pogings om die hawe te laat herleef:
# ‘n Hoëspoedspoordiens word tussen Gauteng en Limpopo ontwikkel. Dit begin met ‘n verbinding tussen Pretoria en Polokwane, met moontlike uitbreidings na Louis Trichardt en Musina. Die spoorlyn van 420-kilometer wil verkeer verminder, toerisme aanvuur en ekonomiese bande versterk. Volgens die Gateway-tydskrif sal dit ook ‘n regstreekse korridor na Zimbabwe skep. Gesamentlike toerisme-veldtogte, waaronder ‘n gholfroete, word beplan. Die projek se meesterplan sal na verwagting teen einde volgende jaar voltooi wees.
# 2024 se Santa-skoenboksprojek het 75-duisend pragtig-versierde bokse ingesamel wat geskenk is deur vrygewige Suid-Afrikaners. Die bokse, gevul met noodsaaklikhede soos toiletware, klere, skoolvoorraad en speelgoed, sal vreugde bring aan minderbevoorregte kinders in skole, kinderhuise en huise. Die organisasies wat voordeel trek sal Kerspartytjies aanbied waar die kinders hulle bokse sal oopmaak en die geskenke sal geniet. Die veldtog het sedert sy stigting in 2006 reeds meer as 1,2-miljoen kinders bereik.
# Die Suid-Afrikaanse wetenskapfiksie-rolprentreeks, Transmission, het die toekenning vir beste bekendstellingsepisode gewen op die NYC Web Fest in New York. Die reeks handel oor ‘n vrou, Beth, vertolk deur Mikkie-dené le Roux, wat aan haar huwelik van mishandeling en konserwatiewe gemeenskap in Kaapstad ontsnap tydens beurtkrag. Die prent se vervaardigers het deur die presidensiële indiensnemingstimulusprogram 500-duisend-rand van die Nasionale Film- en Video-stigting van Suid-Afrika ontvang om die film te maak.
# En ten slotte: Die benoemings vir die tiende jaarlikse Speletjietoekennings is aangekondig met Astro Bot en Final Fantasy 7: Rebirth wat elk sewe benoemings gekry het vir die speletjie van die jaar. Hannah Telle vir Life is Strange: Double Exposure en Humberly González vir Star Wars Outlaws is benoem vir beste uitbeelding. Animal Well, Neva en Balatro is benoem as die beste onafhanklike speletjie. Geoff Keighley is die gasheer van die toekennings in Los Angeles op 12 Desember.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….