Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Byna vyf-persent van globale koolstofuitlatings word veroorsaak deur gesondheidsorg, met hospitale wat bydra deur energieverbruik, afval en vervoer. Navorsing toon hospitaalgeboue is groot energie-gebruikers omdat hulle volgehoue kragtoevoer nodig het om die ligte en toerusting aan die gang te hou, en sale en teaters teen die regte temperatuur te hê. In Suid-Afrika maak hospitale sterk staat op steenkool-elektrisiteit, wat bydra tot kweekhuisgasse. Die hoof van Urologie aan die Universiteit van Kaapstad, John Lazarus, sê een manier om die gesondheidsektor se koolstofuitlatings te verlaag is om groenhospitale te bou.
# Die Wes-Kaapse regering het hom aangesluit by beroepe vir dringende optrede teen die toenemende wêreldwye bedreiging van droogte, veldbrande en uiterste hitte. Die provinsie is ‘n stigterslid van die Mediterreense Vennootskap vir Klimaatsoptrede. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê klimaatsverandering is ‘n wêreldwye kwessie, maar die uitwerking word plaaslik ervaar. Hy sê die provinsiale regering se stryd teen klimaatsverandering sluit in die verbetering van watersekerheid, die vermindering van die gevare van uiterste hitte en veldbrande en die beperking van die provinsie se koolstofvoetspoor.
# En ten slotte: Organiese en baba-wortels is herroep in kruidenierswinkels regoor Amerika na ‘n E. coli-uitbreking waartydens een persoon dood is. Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -Voorkoming sê 15 mense is tot dusver in die hospitaal opgeneem en 39 gevalle is in 18 state aangemeld. Die herroeping is van verpakte wortels wat deur Grimmway Farms aan groot supermarkte verskaf word. Die E. coli-wortels volg op nog ‘n hoëprofiel-uitbreking op gesnyde uie op sommige McDonald’s Quarter Pounder-burgers, wat 104 mense siek gemaak het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….