Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkomstediens reik meer as 1,9 miljoen belastingvoorskrifte uit onder die tweepotstelsel
# Rugby: Die Bokke se hulpafrigter sê hulle sal Wallis nie onderskat nie
# En vee gaan in Denemarke belas word omdat hulle gasuitlating aardverwarming aanhelp
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moedig belastingbetalers aan om seker te maak hulle gebruik die regte identiteits- en belastingnommer wanneer hulle aansoek doen om belastingvoorskrifte onder die tweepot-pensioenstelsel. Die Ontvanger het sedert die instelling van die stelsel meer as 1,9-miljoen voorskrifte uitgereik ter waarde van amper 50-miljard-rand. Die kommissaris, Edward Kieswetter, moedig die gebruik aan van digitale platforms, soos die WhatsApp-berekenaar en wedbladhulpmiddels, om die proses te bespoedig en vertragings te vermy. Belastingbetalers word aanbeveel om aan voorskrifte te voldoen om misdadigheid te voorkom.
# Green Connection sê Eskom se voorgestelde tariefverhoging is vir die meeste Suid-Afrikaners eenvoudig onbekostigbaar. Die kragverskaffer het by die energiereguleerder, Nersa, aansoek gedoen om elektrisiteitspryse volgende jaar met 36-persent te verhoog. Nersa se openbare verhore oor die moontlike verhoging is tans in Kaapstad aan die gang. Green Connection se woordvoerder, Liziwe McDaid, sê dis ‘n probleem dat Eskom nie bestendige elektrisiteitstoevoer kan verskaf nie, maar nogtans verwag verbruikers moet meer betaal:
# Die Stad Tshwane sê hy merk ʼn daling in watervlakke op by die reservoirs in Atteridgeville, Laudium, Lotus en Soshanguve Blok L. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die Departement van Nutsdienste se bestuur beraadslaag met Rand Water. Hy sê hulle probeer vasstel wat die onaanvaarbare daling veroorsaak:
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê hulle sal Wallis nie Saterdag in Cardiff onderskat in die laaste wedstryd van hulle jaareindtoer nie. Die Walliesers, wat net meer as ‘n jaar gelede die Wêreldbeker-kwarteindronde gehaal het, probeer weer op die wenpad kom na elf agtereenvolgende nederlae, terwyl die Bokke na ʼn derde opeenvolgende sege streef. Davids sê hulle sal alles moet uithaal ten spyte van Wallis se vorige uitslae:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-622-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-619-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Deense regering sê die land se grootste partye het ooreengekom oor die detail rondom die wêreld se eerste koolfstofbelasting op vee se gasuitlatings. Vanaf 2030 sal metaan-uitstralings deur beeste en varke se buikwinde as deel van ‘n groter omgewingsplan belas word. Sowat 60-persent van Denemarke se grond is tans bewerk, wat dit saam met Bangladesj die lande met die hoogste persentasie bewerkte grond maak. Tien-persent van die bewerkte grond sal in natuurlike habitat omskep word. Die plan behels ook die aanplant van 250-duisend-hektaar woude.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….