Nuus 09:00
BULLETIN 19 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Helen Zille sê dit is nie die DA se taak om die ANC te beskerm nie
# Tegnologiese bedrog en swendelary word ‘n groot uitdaging
# En Hongkong stuur pro-demokrasie-aktiviste tronk toe
# Die voorsitter van die Federale Raad van die DA, Helen Zille, sê dit is nie die werk van die DA om die ANC te beskerm nie, maar om die waarheid te praat en op te kom vir die waardes, beginsels en beleid wat Suid-Afrika sal red. Sy het reageer op ‘n artikel deur die joernalis Mondli Makhanya, wat Zille beskryf het as ‘n opperste afbreker wat die regering van nasionale eenheid bedreig. Zille sê nie een van haar openbare uitsprake oor die bestuur van die koalisieregering kan moontlik die bestendigheid daarvan ondermyn of in gevaar stel nie.
# Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomings sê die rol wat tegnologie speel in bedrog en kullery word ‘n groot uitdaging, veral in Suid-Afrika. In 2022 het die land die meeste kuberaanvalle op die vasteland beleef. Daar word beraam in 2023 het die gemiddelde aantal weeklikse kuberaanvalle per organisasie in Afrika jaar-tot-jaar toegeneem met 23-persent, wat dit die hoogste gemiddeld ter wêreld maak. Roy Retief van die bedrogvoorkomingsdiens sê maatskappye moet hulle kubersekerheidsbeleidsprogramme en -protokolle laat oudit.
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, Sello Seitlholo, verwelkom die besluit van die Landdroshof in Balfour om die Dipaleseng-munisipaliteit in Mpumalanga ‘n boete van 160-miljoen-rand op te lê. Daar is bevind die munisipaliteit het die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en die Nasionale Waterwet oortree. Seitlholo sê tussen Desember 2018 en August 2023 het die munisipaliteit die omgewing aansienlike skade berokken deur onbehandelde riool in verskeie gebiede te stort, waaronder die Suikerbosrandrivier en die Gasteplaasdam:
# ‘n Hongkongse hof het 45 pro-demokrasie-aktiviste tronkstraf van tussen vier en tien jaar opgelê op aanklagte van ondermyning. Sewe-en-veertig mense is aanvanklik aangekla van sameswering tot ondermyning vir hulle rol in ʼn nie-amptelike voorverkiesing in 2020. Een-en-dertig het skuldig gepleit en 14 ander is ná ʼn verhoor in Mei skuldig bevind. Twee is vrygespreek. ʼn Regsgeleerde, Benny Tai wat die 2014-Besettingsbetogings gelei het, het tien jaar tronkstraf gekry.
# Gholf: Sergio Garcia van Spanje het weer aansoek gedoen om lidmaatskap van die DP World-toer, want hy wil die Europese rekord van elf deelnames aan die Ryderbeker deel. Die 44-jarige het verlede jaar uit die Europese toer bedank nadat hy beboet is vir sy aansluiting in 2022 by LIV-gholf. Garcia het sy aansoek ingedien om na die DP-toer terug te keer vir die 2025-seisoen en het sy uitstaande boetes betaal. Hy sal ook ‘n skorsing moet uitdien. Europese spelers wat gekies wil word vir die Ryder-beker moet lede van die toer wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-96 teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-567-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-623-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….