Nuus 07:00
BULLETIN 19 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die situasie in Stilfontein is onseker en kan skielik verander
# Eskom doen ‘n beroep op voorafbetaalde kliënte om hul meters voor die sperdatum op te dateer
# En rugby: Wallabies se afrigter dink nie nou daaraan om al vier Britse spanne te klop nie
# President Cyril Ramaphosa doen ‘n beroep dat die dooiepunt by Stilfontein in Noordwes vreedsaam en veilig opgeklaar word. Meer as ʼn duisend onwettige mynwerkers het die afgelope weke ʼn ongebruikte mynskag verlaat, maar honderde is steeds ondergronds. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief onwettige en ongereguleerde mynbedrywighede skep gevaar wat die teenwoordigheid van plofstof, inaseming van giftige dampe en moontlike ineenstorting van onstabiele skagte betref. Hy sê die situasie is haglik, onseker en kan vinnig verander.
# Eskom het sy oproep herhaal dat klante wat voorafbetaalde elektrisiteit koop, hulle meters teen Sondag moet opdateer. Ná Sondag se sperdatum sal alle meters wat nie bygewerk is na Sleutelhersieningsnommer 2 nie, nie meer elektrisiteit-koopskyfies aanvaar nie. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê klante wat nie hul meters opdateer nie, sal dit moet vervang wat tot 12-duisend-rand kan kos:
# ‘n Onlangse verslag deur OfferZen sê Suid-Afrika word bedreig deur ‘n kritieke verlies aan tegnologietalent namate die wêreldwye vraag na ontwikkelaars toeneem. Medestigter van Tregter, Ferdinand Steenkamp, sê 64-persent van ontwikkelaars staan gereed om weens hulle onbuigsame werksomstandighede te bedank en ondernemings moet datagedrewe strategieë ontwikkel om mededingend te bly. Steenkamp beklemtoon die noodsaak om mense deur middel van vernuwing en beter beleid te behou. Hy vra dringende optrede om talent te beskerm en digitale transformasie te aanvaar.
# Planne word beraam om die Mosselbaaise hawe in die Wes-Kaap te vergroot om groter passassierskepe van tot 300-meter te kan hanteer. Die huidige opset vereis dat vaartuie in die baai moet vasmeer, wat toeriste se toegang tot die dorp belemmer tydens gure weer. ‘n Sleutel-vergadering met belanghebbendes word hierdie week gehou om langtermyn-ontwikkelingsplanne te finaliseer. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die verbeterings is deel van groter pogings om die hawe te laat herleef:
# Die Europese Unie het nuwe sanksies teen Iran aangekondig oor sy voortgesette steun aan Rusland se oorlog in Oekraine. Die sanksies is teen vaartuie en hawens wat Irans-vervaardigde onbemande hommeltuie, missiele en verwante tegnologie en onderdele vervoer. Beperkingsmaatreëls is ook ingestel teen een persoon en vier instellings ná Iran se oordrag van missiele en hommeltuie aan Rusland. Amerika het meer as 600 sanksies ingestel teen instellings wat bande met Iran het, sedert president Joe Biden meer as drie jaar gelede aan bewind gekom het.
# Rugby: Die Australiese afrigter Joe Schmidt sê hulle gaan nie gerus raak na hul tweede oorwinning op hul Europese toer nie. Australië het Wallis Sondag met 52-20 afgeransel nadat hulle Engeland die vorige naweek verslaan het en volgende teen Skotland en Ierland kragte meet. Schmidt sê die Wallabies se 1984-sege oor al vier Britse spanne is te lank gelede om te oorweeg. Hy verwag ʼn taai stryd teen Skotland met wie hy gereeld te doen gekry het as Ierland se afrigter. Hy voeg by hy dink nog nie eens aan die wedstryd teen Ierland nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-758-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-615-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….