Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership Suid-Afrika prys fiskale herstel maar waarsku oor ekonomiese agteruitgang in Gauteng
# ‘n Voormalige Wallabies-afrigter en veteraan-uitsaaier word aangekla van seksuele mishandeling
# En, sokker: Cosatu vra Wes-Kapenaars om Bafana Bafana se wedstryd teen Suid-Soedan te steun
# Business Leadership South Africa het S&P se positiewe kredietgraderingsvooruitsigte verwelkom en gee erkenning aan die regering se pogings tot finansiële beheer, insluitend ‘n begrotingsoorskot in ‘n vermindering in skuldkoste. Die organisasie het die onlangse groei in die arbeidsmag geprys, met 294-duisend werksgeleenthede wat in die derde kwartaal geskep is. BLSA se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, is egter bekommerd oor die ekonomiese agteruitgang in Gauteng, wat in hierdie tydperk 66-duisend werksgeleenthede verloor het. Mavuso het swak dienslewering en politieke onbestendigheid die skuld gegee vir die verswakking van die provinsie as ‘n ekonomiese spilpunt.
# Die modernisering van Suid-Afrika se BTW-verslagdoeningstelsels kan inkomste-invordering verbeter en nie-nakoming verminder. Die uitvoerende hoof van VAT Modernisation SA, Shannon Friedman, sê die voordele van outomatiese e-fakturering is om doeltreffendheid te bevorder, bedrog te verminder en belastinginkomste te verhoog. Verbeterde BTW-stelsels is glo noodsaaklik om ‘n bekwame staat te bou, wat beter openbare dienste soos gesondheidsorg en onderwys moontlik maak. Bizcommunity berig lande soos Italië en Brasilië het die sukses van soortgelyke stelsels bewys, en aansienlike inkomstewinste behaal en belastinggapings verminder.
# Die Departement van Water en Sanitasie sê hy is tevrede met die vordering wat gemaak is met die onderhoudsprojek van die Lesotho-Hoogland-Watertonnel vandat die stelsel 46 dae gelede afgesluit is. Adjunkminister David Mahlobo sê daar sal steeds genoeg water wees om te voorsien aan Gauteng en die Vrystaat todat die onderhoudswerk afgehandel is. Die Sterkfonteindam is op bystand om water in die Vaaldam vry te stel as die watervlak tot 18-persent sou daal:
# ‘n Voormalige afrigter van die Wallabies-rugbyspan en veteraan Australiese uitsaaier, Alan Jones, word aangekla van die seksuele mishandeling van sewe mans en ʼn tienerseun. Speurders van die polisie van Nieu-Suid-Wallis se Kindermishandelingseenheid het die 83-jarige Jones vroeg vanoggend by sy huis in Sydney in hegtenis geneem, die eiendom deursoek en beslag gelê op elektroniese toestelle. Jones het die nasionale span van 1984 tot ‘87 afgerig en word beskou as een van die invloedrykste mediafigure in Australië. Hy staan tereg op 24 aanklagte oor beweerde voorvalle tussen 2001 en 2019.
# Sokker: Cosatu in die Wes-Kaap loof die Suid-Afrikaanse Sokkervereninging se besluit om ‘n wedstryd van Bafana Bafana die eerste keer sedert 2015 na die provinsie te bring. Malvern de Bruyn van Cosatu sê hulle moedig hulle lede en al die mense van die Wes-Kaap aan om Bafana te steun wanneer hulle môreaand in die Kaapstad-stadion teen Suid-Soedan te staan kom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-29-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-598-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….