Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA kritiseer ministers wat versuim om 50-persent van Parlementêre vrae te beantwoord
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika bedank ná Trump se oorwinning
# En tennis: Taylor Fritz verbeter tot wêreld nommer vier nadat hy tot die titelstryd van die ATP-eindtoernooi vorder
# ActionSA sê meer as 50-persent van amptelike parlementêre vrae bly onbeantwoord. Die party het aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, en adjunkpresident Paul Mashatile geskryf en eis aanspreeklikheid. ActionSA se woordvoerder, Matthew George, veroordeel die minister van Polisie, Senzo Mchunu, en sy adjunkte omdat hulle verlede week die Parlement verlaat het sonder om volgens skedule vrae te beantwoord:
# Suid-Afrika se ekonomiese groei moet gewortel wees in vervaardigings-geleide uitbreiding en ‘n ekonomie gerig op uitvoere wat aangedryf word deur plaaslike munisipaliteite. Dit is op die laaste dag van die jaarlikse distriks-ontwikkelings-konferensie bespreek, wat aangebied is by die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het beloof om plaaslike nywerhede te ondersteun in die bevordering van hul vervaardigingsvermoë. Adjunkminister Zuko Godlimpi het ook struikelblokke met toegang tot befondsing in die sektor uitgelig:
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben Brigety, het sy bedanking aangekondig ná Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Die Demokraat wat deur die uittredende president, Joe Biden, aangestel is, sal tot Januarie aanbly, net voor Trump se inhuldiging. Brigety beklemtoon belangrike ekonomiese vennootskappe is tydens sy ampstermyn gevorm. Volgens TimesLive het Brigety beweer hy het 267-duisend Suid-Afrikaanse werksgeleenthede ondersteun, wat tot voordeel van die jeug, onderwys en gesondheidsprojekte was.
# Tennis: Taylor Fritz van Amerika is nou vierde op die wêreldranglys, sy beste posisie nog, nadat hy die titelstryd van die ATP-eindtoernooi in Turyn, Italië, gehaal het. Jannik Sinner van Italië is steeds eerste nadat hy die titel ingepalm het, gevolg deur Alexander Zverev van Duitsland en die Spanjaard, Carlos Alcaraz. Daniil Medvedev van Rusland is een plek af tot vyfde en Casper Ruud van Noorweë het Novak Djokovic van Serwië in die sesde plek vervang. Andrey Rublev van Rusland, Alex de Minaur van Australië en die Bulgaar, Grigor Dimitrov, is die res van die top tien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-469-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-591-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Gesondheid sê hy is vol vertroue dat Suid-Afrika goeie vordering maak met pogings om servikale kanker te voorkom. Die land het een van die hoogste koerse van servikale kanker onder vroue met ‘n geskatte 13-duisend-800 nuwe gevalle elke jaar. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die regering het verskeie ingrypings ingestel om servikale kanker onder vroue te voorkom, insluitend die bekendstelling van die menslike papilloomvirus-inentingsveldtog en die uitbreiding van toetsingsdienste:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….