Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson vra ‘n gesamentlike poging om puttoilette uit te skakel
# Kaapstad staan vandag Eskom se versoek vir ‘n verhoging van 44-persent teen op Nersa se openbare verhore
# En, rugby: Vier Springbokke word benoem vir Wêreldrugby se toekennings
# Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, vra samewerking om puttoilette teen volgende jaar by skole uit te skakel. Hy het tydens die oorhandiging van verbeterde toilette by die Laerskool Deda in KwaZulu-Natal gepraat en is vergesel deur die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube. Macpherson het aan die SABC beklemtoon die regering en die privaat sektor moet saamstaan. Hy vra sy departement moet betrek word om hierdie kritieke veldtog te bespoedig:
# Die Stad Kaapstad sal vandag en môre mondelingse en geskrewe voorleggings doen tydens die Nasionale Energiereguleerder se verhore oor Eskom se versoek vir ‘n tariefverhoging van 44-persent vir ‘n veeljarige bepaling. Die metro is ‘n heftige teenstander van die verhoging namens inwoners. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê dit is onbeskostigbaar, onregverdig en uit voeling met die finansiële werklikheid waarmee huishoudings, sake-ondernemings en die ekonomie te doen het:
# Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is besorg oor die voortslepende veiligheidsituasie in die Demokratiese Republiek die Kongo. Daar vind tans ‘n beraad in Harare, Zimbabwe, plaas om oplossings vir die kwessies te vind. Die uitvoerende sekretaris van die SAOG, Elias Magosi, sê dringende ingrypings vind tans plaas om ‘n humanitêre krisis in die streek te help voorkom:
# Rugby: Vier Springbokke is benoem vir Wêreldrugby se jaarlikse toekennings. Suid-Afrika se mees ervare toetsspeler, Eben Etzebeth, Cheslin Kolbe en Pieter-Steph du Toit sal teen Caelan Doris van Ierland te staan kom vir die Mans Vyftiens Speler van die Jaar wanneer die wenners Sondagaand in Monaco aangekondig word. Sacha Feinberg-Mngomezulu kan as die Mans Vyftiens Deurbraakspeler van die Jaar aangewys word. Die ander benoemdes in hierdie kategorie is Jamie Osborn van Ierland, Wallace Sititi van Nieu-Seeland en Immanuel Feyi-Wabaso van Engeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-109-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-592-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die musieklegende, wyle Quincy Jones, en die ervare rolwerwer, Juliet Taylor, is met die Academy-eretoekenning vereer op die 15de Governors-toekennings in Los Angeles. Dis ʼn belangrike geleentheid in die toekenningseisoen en word beskou as die Motion Picture Academy se tweede grootste aand van die jaar naas die Oscars. Die Britse skrywer en regisseur, Richard Curtis, het die Jean Hersholt- humanitêre toekenning ontvang, en die James Bond-vervaardigers, Michael G Wilson en Barbara Broccoli, het die Irving G Thalberg-gedenktoekenning gekry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….