Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Miljoene rand se bates van die Padongelukkefonds word opgeveil
# Rugby: Ierland vervang die All Blacks op nommer twee op die wêreldranglys na die Bokke
# En, FNB sê Suid-Afrikaanse pensioentrekkers oorskat hul spaargeld
# Die balju van die Hooggeregshof sal op 5 Desember 18-miljoen-rand se bates van die Padongelukkefonds opveil nadat eise nie betaal is nie. Die fonds se woordvoerder, McIntosh Polela, het aan The Citizen bevestig die meeste beslagleggings sal in Oos-Londen en Johannesburg plaasvind. Polela het die fonds se finansiële uitdagings bevestig, insluitend die huur van toerusting om beslaglegging te vermy. Kritici het intussen die fonds beskuldig van wanbestuur, omdat daar ‘n agterstand van 321-duisend eise is wat nog nie verwerk is nie.
# Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê haar departement sal voortgaan met opvoedings- en bewusmakingsveldtogte wat op voedselveiligheid en die regte gebruik van plaagdoders fokus. Dit volg ná die vlaag voedselvergiftiginggevalle in die land. Sedert die begin van die jaar is meer as 400 gevalle in Gauteng aangemeld, wat volgens berigte met spazawinkels verbind word, en 23 mense, meestal kinders, is dood. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die veldtog sal alle dele van die provinsie bereik:
# Amptenare van die Grensbestuursowerheid het ‘n Duitse burger op die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng onderskep wat op Interpol se lys van mees gesoekte misdadigers is. Die man het agt jaar lank inhegtenisneming ontwyk vir dwelmhandel. Mmemme Mogotsi van die owerheid sê daar is ook ‘n internasionale lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik. Sy sê hy het in Malawi onder ‘n nuwe identiteit gewoon en was in besit van ‘n tydelike Malawiese verblyfpermit:
# Rugby: Nieu-Seeland het sy tweede plek op die wêreldranglys aan Ierland afgestaan na die naweek se nederlaag met een punt teen Frankryk in Parys. Suid-Afrika het sy voorsprong boaan die punteleer met twee punte vergroot na Saterdag se oorwinning van 29-20 oor Engeland op Twickenham. Frankryk is steeds in die vierde plek, gevolg deur Argentinië, Skotland, Engeland, Fidji en Italië. Wallis bly in die 11de plek na hulle loesing van 52-20 teen die Wallabies, met Georgië in die 12 plek na hulle ‘n voorsprong teen Italië prysgegee het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-938-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-588-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaanse pensioentrekkers oorskat hul spaargeld en onderskat hul uitgawes, wat ernstige geldelike probleme in hulle goue jare veroorsaak. Dit is volgens FNB se 2024-opname oor aftrede. FNB se produkhoof vir Geïntegreerde Advies, Ester Ochse, sê minder as 27-persent van Suid-Afrikaners ouer as 60 het ‘n maand se nood-spaargeld:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….