Nuus 11:00
BULLETIN 17 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die beroep om alle spazawinkels binne 21 dae te registreer is onrealisties
# Die IVP loof die regering van nasionale eenheid se vasberadenheid om die gesondheid en welstand van Suid-Afrikaners voorop te stel
# En sokker: Die Bafana Bafana-afrigter sê die span se kwalifisering vir Afcon 2025 is welverdiend
# Die DA sê die beroep deur president Cyril Ramaphosa om alle spazawinkels in Suid-Afrika binne 21 dae by ‘n plaaslike munisipaliteit geregistreer te hê, nadat hulle alle gesondheid- en ander voldoeningsregulasies nagekom het, is onrealisties. Marina van Zyl van die DA sê die geografiese verspreiding en die gebrek aan kapasiteit in plaaslike munisipalteite sal dit baie moeilik maak om die meer as 150-duisend spazawinkels te registreer:
Die IVP het intussen die regering van nasionale eenheid se toewyding geloof om die gesondheid en welstand van Suid-Afrikaners voorop te stel, en kommer oor voedselbesmetting en -veiligheid aan te spreek. Mkhuleko Hlengwa van die IVP sê die party is dankbaar oor die regering se vasberadenheid om burgers te beskerm en ‘n veilige voedselomgewing te bevorder, en hulle sal waaksaam en proaktief bly met die implementering van hierdie aanbevelings.
# ActionSA sê die programmeringskomitee van die Stad Johannesburg het sy mosie aanvaar vir ‘n vorderingsverslag oor die implementering van ‘n 2018-raadsbesluit. Khomo Mashala van ActionSA sê dit sal op die 28ste van die maand ter tafel gelê word. Mashala sê die raad het in 2018 besluit 154 eiendomme moet toegeken word aan die privaat sektor, met 37 leegstaande fabrieke wat uitgewys is vir herontwikkeling:
# President Volodimir Zelensky sê Oekraïne moet alles in sy vermoë doen om te verseker dat die oorlog met Rusland volgende jaar deur diplomasie beëindig word. In ‘n radio-onderhoud in Oekraïne wat die naweek uitgesaai is, het Zelensky bygevoeg die Russiese president Vladimir Putin stel egter nie belang om in te stem oor ‘n vredesooreenkoms nie, en dit is gerieflik vir Moskou om te sit en praat terwyl hulle aanhou veg. Zelensky sê die oorlog sal waarskynlik gouer ‘n einde kry onder die Amerikaanse verkose president Trump, wat dikwels tydens sy veldtog gesê het hy sal die konflik vinnig beëindig.
# En sokker: Die afrigter van Bafana Bafana, Hugo Broos, is vol lof na die span se 2-0 oorwinning Vrydag oor Uganda. Hy sê dit bewys hulle kwalifisering vir Afcon 2025 is welverdiend en nie bloot ‘n gelukskoot nie. Na die sege het Bafana elf punte gehad, wat hulle bo Uganda plaas in Groep K, met een wedstryd oor. Dit word Dinsdag in Kaapstad teen Suid-Soedan gespeel. Broos wil onoorwonne bly in die kwalifiseerders, wat hulle nuut-ontdekte konsekwentheid uitlig. Hy verwag ‘n groot skare in Kaapstad met hulle eerste wedstryd daar in nege jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….