Nuus 13:00
BULLETIN 16 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Departement van Basiese Onderwys gaan ‘n omsendbrief uitstuur oor die bestuur van voedseloordraagbare siektes
# Die regering verwelkom S&P se graderingsbesluit
# En rugby, Siya Kolisi is vol vertroue in die Springbok-wedstrydgroep vir die kragmeting teen Engeland
# President Cyril Ramaphosa sê die Departement van Basiese Onderwys sal onmiddellik ‘n omsendbrief uitstuur aan provinsiale onderwysdepartemente en alle skole oor die beste protokolle om voedseloordraagbare siektes te voorkom en te bestuur. Ramaphosa sê teen die begin van die nuwe skooljaar sal die departement en skoolbeheerrade, saam met die Departement van Gesondheid, riglyne hersien en bywerk oor die bestuur van verskaffers aan staatskole:
# Die regering het S&P se besluit verwelkom om Suid-Afrika se vooruitsig te hersien van bestendig na positief. Die graderingsagentskap sê die positiewe vooruitsig onderskryf sy mening dat die politieke bestendigheid na die verkiesing privaat belegging en BBP-groei aangemoedig het. Die vorming van ‘n koalisie onder die regering van nasionale eenheid het uitgeloop op die versagting van finansieringsvoorwaardes en ‘n sterker wisselkoers. S&P sê die regering se strategie vir ekonomiese groei is gemik op fiskale volhoubaarheid, wat ekonomiese groei en kritieke maatskaplike dienste steun en aansienlike fiskale en ekonomiese risiko’s aanspreek.
# Die EFF sê hy is geskok oor die toenemende voorkoms van wanoptrede deur onderwysers, veral gevalle van seksuele geweld in Suid-Afrikaanse skole. Die woordvoerder van die EFF, Leigh-Ann Mathys sê volgens die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders is 22 onderwysers tussen 2023 en 2024 afgedank nadat hulle skuldig bevind is aan seksuele wanoptrede. Mathys sê onder die leierskap van die ANC word kinders in Suid-Afrika se veiligheid en welstand daagliks bedreig.
# Rugby: Springbok-kaptein Siya Kolisi is optimisties oor die wedstrydgroep wat afrigter Rassie Erasmus vir vandag se kragmeting met Engeland op Twickenham gekies het. Daar is 12 veranderings in die opdrafspan met ‘n splinternuwe agterlyn. Erasmus het op ʼn plaasvervangersbank van 5-3 besluit. Kolisi is vol lof vir die balans tussen ervaring en jeug om die groep te versterk en jonger spelers noodsaaklike speelkans te gee:
# En ten slotte, die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad gedenk vandag Wêreld-prematuurdag met ʼn pret-stap en sorgpakkies vir moeders. Die dag word môre wêreldwyd gedenk en laat die kollig val op die belangrikheid van ouerbetrokkenheid en goeie neonatale sorg. Die hoof van Neonatologie by die hospitaal, Gugu Kali, sê Tygerberg versorg elke jaar ongeveer 800 vroeggebore babas en bied gespesialiseerde ondersteuning sodat hulle kan gedy:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….