Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF se voorsitter in Tshwane sê die party is steeds ‘n bestendige organisasie onder Malema
# MultiChoice sê die ooreenkoms met Canal Plus sal mededinging met Netflix versterk
# En, rugby: Beauden Barrett begin op losskakel vir die All Blacks teen Frankryk in Parys
# Die voorsitter van die EFF in Tshwane, Obakeng Ramabodu, sê die party onder die leierskap van Julius Malema is steeds ‘n bestendige en verenigde organisasie. Dit volg na die uittog van leiers aan die vooraand van sy Nasionale Volksvergadering volgende maand. Ramabodu het op die party se aanlyn uitsending gepraat oor die jongste politieke verwikkelings in die land. Hy het in ʼn skuinshou na die MK-party gesê die EFF stel nie mense in leierskapposisies aan nie, omdat hulle deur die takke verkies word.
# Statistieke Suid-Afrika het ʼn jaar-tot-jaar-verhoging van 4,7-persent in mynbouproduksie vir September aangekondig, op die rug van sterk vertonings deur metale in die platinumgroep, ystererts en mangaan. Steenkool en goud het egter gedaal. Mineraalverkope het ook met agt-persent toegeneem met goud en mangaan aan die voorpunt, terwyl die platinum-groep metale ‘n daling getoon het. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke Suid-Afrika sê die mynbousektor het in die geheel tekens van herstel getoon ten spyte van ‘n paar uitdagings:
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield, sê die ondersteuning van die vervaardigingsektor in Suid-Afrika bly ‘n sleutelprioriteit vir die regering, want dit lei tot meer volhoubare groei en werkskepping. Die ondersteuning van die vervaardigingsektor en die ontwikkeling van beleid wat op mededinging gegrond is, sal ontsettend baie bydra om die uitdagings in die sektor te oorkom. Namate die wêreld verander, is Suid-Afrika in ʼn goeie posisie om innoverende maniere te oorweeg om die sektor te ontwikkel en te laat groei.
# Die uitvoerende hoof van MultiChoice, Calvo Mavela, sê die transaksie van 55-miljard-rand met Canal Plus sal die mededinging met Netflix versterk. Volgens Mavela sal die ooreenkoms mededingendheid regoor die Frans- en Engelssprekende Afrika verbeter, en dit moontlik maak om vir beter inhoud te onderhandel met meer potensiaal vir verhoogde inkomste. Mavela sê ten spyte van uitdagings soos die verlies aan intekenaars, kan die vennootskap ʼn intekenaarsbasis van 50-miljoen skep wat beleggings in plaaslike inhoud en sport sal versterk. Hy sê die deurlopende gesprekke is ʼn sleutelfokus terwyl die ooreenkoms vorder.
# Rugby: Nieu-Seeland se hoofafrigter, Scott Robertson, sê dit was ‘n moeilike besluit om Beauden Barrett bo Damian McKenzie op losskakel in die beginspan in te sluit vir môre se wedstryd teen Frankryk in Parys. Barrett het verlede naweek se oorwinning oor Ierland misgeloop weens ‘n kopbesering wat hy opgedoen het in die oorwinning oor Engeland. Die vleuel Sevu Reece, die skrumskakel Cam Roigard, die flank Samipeni Finau en die haker Codie Taylor is almal nuwe gesigte in die All Black-span, wat hoop om Frankryk die eerste keer sedert 2018 te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-495-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-566-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….