Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Nuwe veldtog wat oumas bemagtig om geletterdheid in hulle gemeenskappe te bevorder, is in Alexandra, Johannesburg, van stapel gestuur. Die Masifunde GOGO-leesklub wat saam met Literacy4Life in die lewe geroep is, is bedoel om geletterdheid tussen geslagte te bevorder en ‘n liefde vir lees te kweek. Terwyl meer as vier miljoen kinders deur hulle oumas grootgemaak word, is die veldtog bedoel om ‘n belangrike rol in opvoeding te speel, veral inaggenome die land se lae geletterdheidsvlakke. Die program moedig grootouers aan om hardop vir hulle kinders te lees en verskaf ook geletterdheidshulpbronne.
# Breadline Africa gaan in Desember 240 minderbevoorregte kinders hulle eerste ervaring van die see op die St James-strand in Kaapstad gee. Die kinders van arm gemeenskappe gaan aan speletjies deelneem, sandkastele bou, die getypoele ontdek en ‘n smullekker middagete kry. Hulle sal met behulp van die Shark Spotters ook meer oor die oseaan en waterveiligheid leer. Breadline Africa nooi sakeondernemings en individue uit om die projek te steun en dit ‘n onvergeetlike ervaring vir die kinders te maak.
# Die Universiteit van Pretoria se Life Changers-fonds het ‘n fondsinsamelingsteiken van 2,2-miljoen-rand gestel. Die fonds steun gesondheidswetenskapstudente met finansiële uitdagings. Studente wat ‘n loopbaan in beroepsgesondheid wil volg, word gehelp met klasgeld, huisvesting en vervoer. Standard Bank het onlangs 100-duisend-rand aan die fonds geskenk. Professor Tiaan de Jager van UP sê elke student wat die Life Changers-fonds help, is een stap nader aan hulle doel om as beroepslui in gesondheidsorg te kwalifiseer en gemeenskappe te dien.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het sy Rolprentproduksie-student, Murena Netshitangani, gelukgewens wat die Studentefilm van die Jaar-toekenning op die Rolprentproduksie-toekennings gewen het. Sy wenfliek, The Duality, is ‘n baie persoonlike vertelling van hoe hy tussen twee godsdienste vasgevang is. Die 33-jarige student het ʼn kontantprys van 10-duisend-rand ontvang wat deur die Johannesburgse Rolprentfees geborg word. Netshitangani het die toekenning aan sy oorlede pa opgedra wat in die prent sou verskyn, maar dood is voordat dit vervaardig is.
# En ten slotte: ‘n Privaat Chinese keramiekversameling met een-duisend-700-stukke en ‘n geraamde waarde van 23-miljard-rand, is aan die Britse Museum geskenk, wat ‘n rekord vir Britse instellings is. Die museum in Londen se middestad het aangekondig die trustees van die Sir Percival David-stigting het die versameling permanent geskenk sodat dit vertoon kan word. David, wat in 1964 dood is, was ‘n Britse sakeman met ‘n sterk belangstelling in China en die Chinese kultuur. Hy het keramiekstukke uit Europa, Japan, Hongkong en China versamel. Sy versameling is reeds sedert 2009 aan die museum geleen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….