Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA verklaar uraan as kritiek-belangrik vir kernuitbreiding en sluit wêreldwye ooreenkomste
# FlySafair het gebeurlikheidsplanne vir internasionale vlugte weens sy lisensiebedreiging
# En, rugby: Skotland kies ‘n 19-jarige flank wat nog geen senior klubwedstryd gespeel het nie
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika sal uraan tot kritiek-belangrik verklaar ter ondersteuning van sy kernambisies. Die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika het ooreenkomste met die VSA, Korea en China gesluit om die ontginning van uraan, brandstofvervaardiging en kerngeneeskunde te bevorder. Planne sluit in ‘n nuwe veeldoelige reaktor om Safari-1 te vervang, wat sedert 1965 in werking is. Die Tesourie sal meer as ‘n miljard-rand vir die projek begroot. Die minister sê die doel hiervan is om Suid-Afrika se kernenergie- en mediese radio-isotope te versterk.
# FlySafair stel reisigers met besprekings op internasionale roetes vanaf 29 November en later gerus dat daar gebeurlikheidsplanne is indien sy lisensie opgeskort word. Die Internasionale Lisensiëringsraad vir Lugdienste het bevind die aandeelhouding voldoen nie aan vereistes nie en kan moontlik sy internasionale vlugte strand, insluitend na Mauritius en Zanzibar. FlySafair se aansoek om ‘n dringende interdik om die opskorting te keer, word die 26ste van die maand aangehoor. Hulle raai passasiers aan om reisversekeringspolisse te raadpleeg oor dekking. Binnelandse vlugte word nie geraak nie.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement gee aandag aan ‘n linne-tekort in die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal in Johannesburg weens stukkende wasmasjiene. Woordvoerder Motalatale Modiba sê linne word tydelik gewas by die Dunswart-wassery en die departement het aansoek gedoen om nuwe toerusting. Hy sê tegnici doen intussen noodsaaklike herstelwerk om die wasdiens aan die gang te hou tot die nuwe masjiene befonds en afgelewer is:
# Rugby: ʼn Negentienjarige oopkantflank kan môre van die bank af sy buiging maak vir Skotland teen Portugal, hoewel hy nog nie eens ʼn mededingende wedstryd op senior klubvlak gespeel het nie. Freddy Douglas sal dan die jongste Skotse toetsspeler in 60 jaar word. Afrigter Gregor Townsend het 14 veranderings aangebring aan die span wat met 32-15 teen Suid-Afrika verloor het. Die senter van Glasgow, Stafford McDowell, sal die span aanvoer. Die vleuel Darcy Graham is terug in die span nadat hy weens ʼn kopbesering nie teen die Bokke kon speel nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-105-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-565-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies het ‘n waarskuwing aan verbruikers gerig oor die stygende verkope van onwettig-opgeknapte geisers. Die reguleerder is bekommerd omdat die toestelle nie aan die verpligte veiligheidstandaarde voldoen nie. Die reguleerder se hoofbestuurder, Tintswalo Ntlhane, sê hierdie geisers hou verhoogde risiko’s in, insluitend elektriese skokke en waterlekkasies, wat moontlik hoër elektrisiteitsrekeninge tot gevolg sal hê:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….