Nuus 11:00
BULLETIN 15 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê Ramaphosa sleep sy voete met die Simelane-kwessie
# Die Verenigde Nasies bevind Israel gebruik hongersnood as ‘n oorlogswapen
# En, rugby: Rassie Erasmus verduidelik sy teruggekeer na ‘n 5-3-verdeling op die bank vir die kragmeting met Engeland
# ActionSA sê hy is bekommerd president Cyril Ramaphosa is blykbaar huiwerig is om beslissende stappe te doen teen die minister van Justisie, Thembi Simelane. Sy het as Polokwane se burgemeester in 2016 ‘n lening van 575-duisend-600-rand ontvang van ‘n maatskappy met bande met die VBS Bank. Ramaphosa het in September ’n verslag van Simelane ontvang en gevra vir tyd om dit te bestudeer. Athol Trollip van ActionSA sê Ramaphosa is nie lus om korrupsie in sy kabinet te takel nie:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies het onthul Suid-Afrikaanse kinders van so jonk as elf word geïndoktrineer om terreurdade te pleeg. Willem Els van die instituut het teenoor News24 beklemtoon hoe dringend die behoefte is om teen hierdie bedreiging op te tree en meen daar is onvoldoende intelligensie en voortgesette ekstremisme. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het intussen erken daar is talle veiligheidsuitdagings en beklemtoon hoe belangrik dit is om lank-verwaarloosde grenskwessies aan te pak en verdere toenames te voorkom.
# Die beleid en praktyke van Israel in sy 13-maande lange konflik met Hamas kom ooreen met die kenmerke van volksmoord. Dit is volgens ‘n spesiale komiteeverslag van die Verenigde Nasies. Die Internasionale Geregshof ondersoek op die oomblik ‘n klagte van Suid-Afrika dat Israel se militêre veldtog in Gaza volksmoord tot gevolg het. Die VN sê daar is ook ernstige kommer dat Israel hongersnood as ‘n wapen gebruik in sy oorlog in Gaza en ‘n apartheidstelsel aan die Wesoewer bestuur, insluitend in Oos-Jerusalem.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê die terugkeer na die tradisionele verdeling van vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank is gemik op die uitdagings wat Engeland na verwagting môre op Twickenham gaan bied. Daar is 12 veranderings aan Suid-Afrika se opdrafspan wat Skotland verlede naweek verslaan het. Slegs Eben Etzebeth, Ox Nché en Bongi Mbonambi bly oor. Erasmus sê hy is tevrede met die hele span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-84-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-561-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, moes haar noodgedwonge aan die Mej Heelal-kompetisie onttrek weens gesondheidsprobleme. Sy sê dit was uiters moeilik om hierdie besluit te neem want sy weet daar is drome en hoop op haar gevestig. Die Mej Suid-Afrika Organisasie sê Le Roux het deur hierdie moeilike tydperk ongelooflike moed en grasie aan die dag gelê en haar gesondheid en welstand kry voorkeur. Die Mej Heelal-kompetisie word die naweek in Mexikostad gehou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….