Nuus 07:00
BULLETIN 15 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Internasionale Betrekkinge veroordeel Israel se anneksasiebevel vir die Wesoewer
# Die EFF sê die privatisering van staatsondernemings moet gestuit word
# En ‘n Johannesburgse sakeman kan tronk toe gaan omdat hy ’n beslagleggingsbevel ignoreer
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking doen ‘n beroep op die internasionale gemeenskap om die Israelse regering teen te staan omdat hy volgens hom sy verpligtinge onder internasionale wetgewing versaak, en oor resolusies wat verband hou met sy besetting. Die departement sê hy is ontevrede oor ʼn verklaring wat aan Israel se minister van Finansies, Bezalel Smotrich, toegedig word waar hy blykbaar vra dat die Wesoewer geannekseer word. Die departement sê Suid-Afrika is gekant teen Israel se anneksasie en uitbreiding op Palestynse grond.
# Die EFF het herhaal die privatisering van staatsondernemings moet gestaak word. Sedert die vyfde administrasie in 2019 oorgeneem het, was daar pogings om kontant-arm staatsondernemings te privatiseer en te ontbondel. Dit sluit Transnet en die Suid-Afrikaanse Lugdiens in. EFF-lid Omphile Maotwe het aan die Parlement gesê Suid-Afrika loop volgens die party tans deur onder ʼn ekonomiese agenda wat aangedryf word deur neo-liberalisme en besuinigings, wat aan privaat wins voorkeur gee bo openbare belang:
# COSATU sê bewerings van korrupsie in die Uitgebreide Openbare Werke-program is ontstellend. Die Departement van Openbare Werke het sy kommer uitgespreek oor onreëlmatige werwing, die uitbuiting van vroue, en politieke inmenging. COSATU-woordvoerder, Zanele Sabela, sê die program behoort vaardighede en werk aan miljoene te verskaf. Sy sê die federasie eis aanspreeklikheid en belyning met die nasionale minimum loon om te verseker die program bevoordeel behoeftiges.
# Die Spesiale Tribunaalhof het die omstrede Johannesburgse sakeman, Hamilton Ndlovu, aan minagting van die hof skuldig bevind nadat hy versuim het om bates te oorhandig as deel van ʼn beslagleggingsbevel. Die bevel hou verband met sy Covid-19-kontrakte van 170-miljoen-rand. Die bates sluit ʼn Mercedez Benz G63 AMG en ʼn 2020 Rolex-polshorlosie in. Die tribunaal het beslis Ndlovu moet 30 dae tronk toe gaan, maar dis opgeskort om hom tyd te gee om die bevel te gehoorsaam. Hy is ook met 500-duisend-rand beboet, wat vir ʼn jaar opgeskort is.
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, het sy verbintenis tot die bekamping van diskriminasie in die werkplek op grond van geslagsidentiteit en seksuele oriëntasie herbevestig. Die vakbond neem deel aan die konferensie van die Internasionale Lesbiese, Gay-, Biseksuele, Trans- en Interseksvereniging in Kaapstad, wat vandag ten einde loop. Hulle sê alle werkers, ongeag hul identiteit, verdien beskerming. Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, is gekant teen alle vorme van vooroordeel en verwerp pogings om die werkersklas te verdeel:
# Rugby: Die Wêreldbeker-wenner en gewese Springbok Francois Louw het teruggekap na die Walliese joeranlis Stephen Jones se kritiek op die Bokke se “bomb squad”. Jones het gesê afrigter Rassie Erasmus was arrogant om verlede naweek ‘n verdeling van 7-1 op die bank te kies teen Skotland, veral omdat hy ses voorspelers gelyktydig opgestuur het. Jones wil hê Wêreldrugby moet die plaasvervanger-reël wysig. Louw sê dan sal die volgende seker wees dat Cheslin Kolbe nie gekies kan word nie omdat hy te vinnig is, of Makazole Mapimpi omdat hy te goed is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-991-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-566-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….