Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Organisasie pleit vir amnestie vir onwettige mynwerkers in Stilfontein, Noordwes
# Sokker: Israel se afrigter vra sy spelers om slegs op hulle spel te konsentreer in vanaand se gespanne wedstryd in Parys
# En die wêreld se grootste koraal word in die Stille Oseaan gevind
# Die organisasie Mining Affected Communities United in Action pleit vir amnestie vir onwettige mynwerkers in Stilfontein, Noordwes. Ongeveer 600 het na die oppervlak gekom nadat die polisie verhinder het dat noodsaaklikhede hulle bereik. Een liggaam is vandag herwin en vyf mense is tot dusver gered. Nasionale koördineerder, Meshack Mbangula, het aan Newzroom Afrika gesê mynwerkers is bang hulle word aangekeer indien hulle na die oppervlak kom, en vra behoorlike planne om diegene wat nog ondergronds is te red:
Die EFF versoek wetstoepassingsagentskappe intussen om menslike strategieë in te span met die hantering van die vasgekeerdes en om almal se gesondheid en veiligheid in ag te neem. Woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê ongeveer vier-duisend-500 mynwerkers is ondergronds vasgekeer, en word weens die weerhouding van voorraad na die oppervlak gedwing as gevolg van erge ontwatering, honger en verslegtende gesondheid. Mathys sê die proses moet wetstoepassing balanseer met respek vir menseregte en waardigheid.
# Die DA se Gautengse leier, Solly Msimanga, het vandag in Pretoria meer as 200-duisend handtekeninge aan die Energiereguleerder ingedien van mense wat gekant is teen Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging van 40-persent. Honderde mense het aangesluit by die DA se betoging en bekostigbare en betroubare krag geëis. Msimanga vra openbare deelname aan NERSA se verhore. Hy beklemtoon ook aanspreeklikheid en verligting te midde van Suid-Afrika se krisis met energie en lewenskoste:
# Sokker: Israel se afrigter, Ran Ben Shimon, vra sy spelers om net op die spel te konsentreer in vanaand se Nasiesbeker-wedstryd teen Frankryk in Parys. Ongekende veiligheidsmaatreëls is rondom die Stade de France getref na verlede week se geweld in Nederland toe die Israelse span Maccabi Tel Aviv teen Ajax Amsterdam gespeel het. Die Franse president, Emmauel Macron, gaan vanaand se wedstryd bywoon, maar slegs sowat 20-duisend toeskouers word verwag in die stadion wat 80-duisend kan huisves. Ben Shimon sê ‘n klein skare sal nie sy span se vertoning beïnvloed nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-281-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-555-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Wetenskaplikes het die grootste koraal wat nog aangeteken is in die Salomonseilande in die suidwestelike Stille Oseaan gevind. Die mega-koraal is moontlik ouer as 300 jaar en groter as ‘n blouwalvis. Die koraal is ‘n spesie bekend as Pavona clavus en bied ‘n tuiste aan garnale, krappe, visse en ander seediere. Die ontdekking val saam met die Verenigde Nasies se klimaatsgesprekke, COP29, in Baku, Azerbeidjan, waar strategieë teen klimaatsverandering bespreek word. Klein eilandstate, soos die Salomonseilande, is uiters kwesbaar vir klimaatsverandering.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….