Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA herbevestig sy teenkanting teen Eskom se kragtariefverhoging van 40-persent
# Die Menseregtekommissie begin met ‘n ondersoek na die polisie se Vala Umgodi-operasies teen onwettige mynwerkers
# En, rugby: Die Bokke maak 12 veranderings aan hulle opdrafspan vir die kragmeting met Engeland
# Die DA se Gautengse leier, Solly Msimanga, het vandag in Pretoria meer as 200-duisend handtekeninge aan die Energiereguleerder ingedien van mense wat gekant is teen Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging van 40-persent. Honderde mense het aangesluit by die DA se betoging en bekostigbare en betroubare krag geëis. Msimanga vra openbare deelname aan NERSA se verhore. Hy beklemtoon ook aanspreeklikheid en verligting te midde van Suid-Afrika se krisis met energie en lewenskoste:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ondersoek vandag polisie-operasies in Stilfontein, Noordwes, na klagtes dat toegang tot noodsaaklikhede vir onwettige mynwerkers in Stilfontein en Orkney verhinder word. Honderde mynwerkers van Mosambiek, Zimbabwe en Malawi het reeds na die oppervlak gekom, maar daar is vermoedelik nog baie ondergronds. Meer as 600 mense is reeds tydens die operasie aangekeer.
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli, het ‘n beroep op die nasionale regering gedoen vir begrotingsverligting en beklemtoon daar is beperkings op noodsaaklike dienste in die provinsie. Ntuli het die uitdagings uiteengesit waarmee die onderwys-, gesondheids- en maatskaplike ontwikkelingsektore te kampe het as gevolg van begrotingsbesnoeiings, en hoe dit dienslewering beïnvloed. Hy het die hoop uitgespreek dat provinsiale behoeftes in die volgende nasionale begroting voorop gestel sal word:
# Rugby: Die Springbokke se opdrafspan teen Engeland toon 12 veranderings aan die span wat Skotland verlede naweek 32-15 geklop het. Slegs Eben Etzebeth, Ox Nché en Bongi Mbonambi bly oor. Die Bulle-stut Wilco Louw sluit aan by RG Snyman en die losvoorspelers Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit en Jasper Wiese in die beginspan. Grant Williams en Manie Libbok is die skakelpaar. Cheslin Kolbe, Kurt-Lee Arendse, Damian de Allende, Jesse Kriel en Aphelele Fassi is ook deel van die nuwe agterlyn. Daar is vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-167-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-553-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-57-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die ikoniese Suid-Afrikaanse Ndebele-kunstenaar, Esther Mahlangu, se gevierde uitstalling, Then I Knew I Was Good at Painting, is van Woensdag af tot April volgende jaar by die Wits-kunsmuseum in Johannesburg te sien. Die uitstalling beeld Mahlangu se reis as kunstenaar uit deur argief-werke soos BMW Art Car, en ‘n reeks afdrukke wat sy in samewerking met wyle oudpresident Nelson Mandela gemaak het. Die kurator, Nontobeko Ntombela, sê Mahlangu se werk het ʼn diepgaande invloed op hedendaagse Suid-Afrikaanse kuns.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….