Nuus 06:00
BULLETIN 14 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag aanvaar Danny Jordaan se borgtogvoorwaardes
# Die DA sê Lillian Ngoyistraat lyk soos ‘n oorlogsone
# En die Lebombo-grenspos is weer gesluit
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die borgtog van 20-duisend-rand aanvaar, wat toegestaan is aan die president van die Suid-Afrikaanse Sokkerfederasie, Danny Jordaan, hoof- finansiële beampte, Gronie Hluyo, en sakeman, Trevor Neethling. Die drie het in die Palm Ridge Landdroshof verskyn en word daarvan beskuldig dat hulle SAFA tussen 2017 en 2019 met 1,3-miljoen-rand bedrieg het. NVG-woordvoerder, Phindi Mjonondwane, het bevestig die saak is uitgestel tot 5 Desember:
Die drukgroep NotInMyName Internasionaal eis intussen dat Jordaan moet opsystaan, hangende die uitslag van die bedrog- en diefstalaanklagte teen hom. Die Valke het tydens ‘n onlangse deursoeking van Safa se kantore, beslag gelê op bewysstukke, insluitend hardeskywe en dokumente. Jordaan moet op 5 Desember weer in die hof verskyn. Die groep sê hy behoort tydelik opsy te staan.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie het besluit om voort te gaan met die afhandeling van die Staatsdienskommissiewetsontwerp. Dit volg op ’n regsmening oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp. Die wetsontwerp sal die kommissie in staat stel om as ‘n onafhanklike en onpartydige grondwetlike liggaam te funksioneer. Die komitee sê hy is tevrede met die standpunte van die staatsregadviseur en die kommissie wat die idee dat ‘n enkele staatsdiens in die Grondwet verskans is, bevestig.
# Die DA in Gauteng sê hy gaan aan die Nasionale Tesourie skryf oor moontlike oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur rakende die kontrak van die Lilian Ngoyistraat-rehabilitasieprojek. Die projek is 22-persent voltooi, ‘n jaar ná ‘n metaangasontploffing waarin een persoon dood en 40 ander beseer is. Tot dusver is meer as 17-miljoen-rand bestee uit die totaal van byna 180-miljoen-rand wat vir die projek bewillig is. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA, sê die straat lyk soos ’n oorlogsone:
# Die Grensbestuursowerheid het bedrywighede by die Lebombo-grenspos in Mpumalanga tydelik opgeskort weens voortgesette protesaksie in Mosambiek ná die verkiesing. Die protesaksie word aangevuur deur eise van die opposisie vir ‘n nuwe verkiesing en het gelei tot die sluiting van paaie wat die beweging van voertuie en vrag ontwrig. Die owerheid se kommissaris, Michael Masiapato, sê alle bedrywighede by die grenspos is gestaak om veiligheid te verseker:
# Tennis: Die eerste wedstryd van die Billie Jean King-bekertoernooi in Málaga tussen die gasvrou, Spanje, en Pole gaan nou môre gespeel word nadat ‘n rooi weerwaarskuwing uitgereik is vir swaar reën en oorstromings in dele van die land. Dit volg nadat meer as 200 mense dood is in onlangse oorstromings wat beskryf is as die ergste in Spanje se geskiedenis. Twaalf lande neem deel aan die vrouetoernooi in Andalusië. Die laaste paar dae sal oorvleuel met die mans se Davisbeker-eindtoernooi op dieselfde stadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-148-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-574-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….