Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering publiseer ‘n verordening om voedselveiligheid te verbeter
# Die Gautengse wetgewer laat vaar bedrogklagte teen 32 Nehawu-geaffilieerde werknemers in ‘n reistoelae-saak
# En, rugby: Die beseerde Australiese vleuel Dylan Pietsch is op die kantlyn vir die res van die internasionale seisoen
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aangekondig die regering het ‘n nuwe konsepverordening gepubliseer om township-ekonomieë te reguleer en voedselveiligheid te verbeter. Dit volg ná die dood van kinders in verskeie provinsies weens voedselverwante siektes. Hierdie sterftes sluit in ses kinders wat in Naledi, Soweto, dood is nadat hulle versnaperinge geëet het wat met die hoogs giftige chemiese organofosfaat, Terbufos, besmet was. Ntshavheni het op ‘n nuuskonferensie gesê die verordening stel duidelike standaarde vir township-ondernemings en verseker beter voedselveiligheid en aanspreeklikheid:
Die adjunkminister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli, sê intussen die regering sal steeds die arbeidsmark monitor en die nodige ondersteuning aan Statistieke SA verskaf om betroubare inligting vir almal vry te stel. Regeringswoordvoerder, Mandisa Mbele, sê die Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir die derde kwartaal van 2024 toon ‘n positiewe neiging in die Suid-Afrikaanse arbeidsmag met ‘n daling in die werkloosheidsyfer:
# Die Gautengse wetgewer het ‘n ooreenkoms bereik met die vakbond Nehawu nadat aanklagte van bedrog teen 32 werknemers tot nalatigheid afgegradeer is omdat hulle onwettig toelaes geëis het. Hierdie werknemers het aanvanklik tydens die inperking reistoelaes geëis wat hulle volgens ooreenkoms nou oor 12 maande moet terugbetaal. Ten spyte van ‘n opdrag deur die Ouditeur-Generaal om hulle te vervolg, het die wetgewer besluit op ʼn meer genadige oplossing, wat vrae laat ontstaan het oor sy hantering van onreëlmatige uitgawes.
# Rugby: Die Australiese vleuel, Dylan Pietsch, sal die res van die internasionale seisoen op die pawiljoen deurbring nadat hy sy kuit beseer het in die sege van 42-37 oor Engeland op Twickenham. Josh Flook vervang hom in die groep in Cardiff, terwyl kaptein Harry Wilson weens harsingskudding-protokol nie in Sondag se toets teen Wallis sal uitdraf nie. Die Wallabies se mikpunt is agtereenvolgende oorwinnings wat die eerste keer sal wees sedert hulle Georgië in Julie geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-740-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-611-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad is aangewys as die gasheerstad van WorldPride 2028. en word daarmee die eerste stad in Afrika wat dié internasionale geleentheid sal aanbied. WorldPride ondersteun LGBTQ+ Pride en bevorder die regte en sigbaarheid van dié gemeenskap wêreldwyd. Die leier van die WorldPride Kaapstad-bodkomitee, Michael Gladwin, sê dit is nie slegs ‘n oomblik vir Kaapstad nie, maar ‘n Pride vir almal in Afrika. Hy sê hulle is vasberade om ‘n blywende nalatenskap te laat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….