Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lasbriewe word uitgereik vir die inhegtenisneming van die SA Sokkervereniging se uitvoerende hoof en twee ander
# Asiese markte daal verder weens kommer oor Trump se presidentskap
# En, krieket: Die Proteas en Indië pak mekaar in die derde T20 in Centurion
# Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, en nog twee mense verskyn na verwagting vandag in die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge, Gauteng. Die 73-jarige Jordaan en sy medebeskuldigdes, Safa se finansiële hoof, Gronie Hluyo, en die sakeman Trevor Neethling, word beskuldig van bedrog en diefstal ten bedrae van 1,3-miljoen-rand. Bewerings sluit in die ongemagtigde gebruik van Safa se hulpbronne vir persoonlike uitgawes tussen 2014 en 2018. Volgens berigte kan nog aanklagte bygevoeg word.
# Saftu sê die regering se strategie van die afgelope 30 jaar kon ongelukkig nie daarin slaag om die ekonomiese groei te bereik wat benodig word om die katastrofiese vlakke van werkloosheid aan te pak nie. Mogoshadi Maserumule van Saftu sê met die sogenaamde regering van nasionale eenheid, is daar geen moontlikheid vir ‘n verandering in die land se ekonomiese rigting nie. Sy sê indiensnemingsyfers in die derde kwartaal se Kwartaallikse Arbeidsmagopname beïndruk die federasie glad nie:
# Die Vryheidsfront Plus sê die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders is net ʼn pleister op ʼn diepliggende ingewortelde probleem. Heloïse Denner van die party sê sedert die veldtog in 1991 bekendgestel is, was daar ʼn stadige verbetering in die syfers oor geweld teen vroue en kinders, maar dit moet duidelik gestel word dat hierdie gruwel heel jaar beveg moet word. Sy sê die land se strafregstelsel moet meer doen om vroue te beskerm:
# # Asiatiese markte het vandag weer gedaal weens handelaars se kommer oor die uitwerking van Donald Trump se Amerikaanse presidentskap op die Chinese en globale ekonomieë. Vrese bestaan sy beleid kan ook inflasie in Amerika aanwakker. Die vooruitsig van stygende pryse as gevolg van belastingverlagings, invoertariewe en ‘n verslapping van regulasies, het die dollar nuwe aansporing gegee. Handelaars hou bitcoin ook dop nadat dit die eerste keer baie na aan die kerf van 90-duisend-dollar gekom het, hoewel waarnemers seker is die geldeenheid sal 100-duisend-dollar bereik weens Trump se pro-kripto-veldtogbeloftes.
# Die Proteas en Indië pak mekaar vanaand in die derde T20 op SuperSportpark in Centurion nadat albei een van die vorige twee kragmetings gewen het. Indië het die eerste wedstryd in Durban met 61 lopies gewen en Suid-Afrika die tweede een in Gqeberha met drie paaltjies. Die laaste wedstryd is Vrydag op die Wanderers in Johannesburg. Die verandering vanaf die Ooskus na die Hoëveld word beskryf as wedstryde op twee verskillende vastelande, met die kolfblaaie in die noorde wat meer kolwer-vriendelik is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-444-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-607-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….