Nuus 11:00
BULLETIN 13 November 11 vmm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig John Hlophe van die MK-party dat hy probeer om die uitlewering van die Guptas te ondermyn
# Kabelo Gwamanda eis dat hy heraangestel word as burgemeesterskomiteelid in Johannesburg
# En motorsport: Formule 1 se wedrendirekteur tree met onmiddellike effek uit
# Die DA sê dit is ‘n skande dat die parlementêre leier van die MK-party, John Hlophe, probeer het om die Parlement te gebruik om leemtes in die Guptas se uitleweringsproses te vind en bloot te lê. Die regering het vroeër vanjaar die versekering gegee dat hy sy pogings voortsit om die broers Atul en Rajesh Gupta van die Verenigde Arabiese Emirate te laat uitlewer. Glynnis Breytenbach van die DA sê dit is hoog tyd dat die Guptas met die volle mag van die Suid-Afrikaanse strafregstelsel te doen kry:
# Die SOS Support Public Broadcasting Coalition sê die terugtrekking van die Wetsontwerp op die SABC baan die weg vir dringende finansiële en beleidsoplossings vir die openbare uitsaaier. Hulle doen saam met Media Monitoring Africa en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum ‘n beroep op die Departement van Kommunikasie om onverwyld die witskrif oor openbare uitsaaiwese te finaliseer en die SABC se finansiële uitdagings aan te pak. Die koalisie se woordvoerder, Uyanda Siyotula, versoek ‘n volhoubare befondsingsmodel om die uitsaaier se toekoms te verseker:
# Die afgedankte burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling in Johannesburg, Kabelo Gwamanda, eis dat hy weer aangestel word en voer aan regverdige prosedures is nie met sy afdanking gevolg nie. Die gewese burgemeester word daarvan beskuldig dat hy in Soweto ‘n begrafnispolis-skelmstreek bedryf het. Gwamanda se prokureurs sê hy het deur die burgemeesterskantoor se mediaverklaring van sy afdanking gehoor. Die prokureurs sê indien hierdie onreëlmatige prosedures nie aandag kry nie, behou Gwamanda die reg voor om die howe te nader.
# Groot Franse koerante neem die sosiale mediaplatform X hof toe omdat hy nie betaal vir die gebruik van hulle inhoud nie. Die koerante sluit Le Monde, Le Figaro en Le Parisien in. Hulle betoog hulle word die geld geskuld ingevolge hulle aanvullende regte wat digitale platforms dwing om dagblaaie te betaal vir die verspreiding van hulle inhoud. Hulle beskuldig X, wat aan die miljardêr Elon Musk behoort, dat hy nie voldoen aan ‘n bevel van die Geregshof in Parys in Mei om inligting te voorsien waarmee hulle die bedrag kan bereken nie.
# Motorsport: Formule Een se wedren-direkteur, Niels Wittich, het aangekondig dat hy met onmiddellike ingang uittree, met drie wedrenne van die seisoen wat oorbly. Die Duitser beklee sedert 2022 die pos wat hy aanvanklik met Eduardo Freitas gedeel het as plaasvervangers vir Michael Masi, voordat hy verlede jaar die werk voltyds gedoen het. Die FIA sê Wittich gaan nuwe geleenthede nastreef. F2 en F3 se wedren-direkteur, Rui Marques, is aangewys as Wittich se plaasvervanger en hy begin met volgende week se Grand Prix in Las Vegas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8 -sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-912-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-605-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….