Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Filippynse International Container Terminal Services Incorporated wat deur Transnet gekies is as die voorkeurbieër vir die bestuur van Durban Pier 2 Terminal, gaan die hof nader oor die verloorder Maersk se dreigemente.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ‘n opname van die Instituut vir Rasseverhoudinge het aan die lig gebring die politieke veranderinge wat deur vanjaar se verkiesing meegebring is, het ’n nuwe gevoel van hoop onder die mense van Suid-Afrika gevestig dat dit in die volgende vyf jaar beter kan gaan.
Dan skryf die koerant ondanks die hoë werkloosheidsyfer wil Suid-Afrikaners blykbaar nie vir Checkers se Sixty60-afleweringsdiens werk nie.
En laastens word berig die Engelse se breedsprakigheid voor ’n wedstryd teen die Springbokke het voorheen al in hul gesigte ontplof. Dit kan heel moontlik Saterdag op Twickenham weer die geval wees.
# The Star & Pretoria News:
Berig die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina het sterk standpunt ingeneem teen die stygende golf vandalisme en sabotasie van infrastruktuur wat toegeskryf word aan kriminele sindikate bekend as Watertenk-mafias.
# Sowetan:
Berig die sokkerbaas Danny Jordaan het ‘n dringende hofaansoek ingedien om sy beplande arrestasie te stop. Die Valke ondersoek hom omdat hy na bewering SAFA se geld gebruik het om sy eie beeld te poets.
# En The Citizen:
Vra vandag die vraag: “CAN SABC BE SAVED?” Die koerant skryf daar is uiteenlopende menings oor die onttrekking van die SABC-wetsontwerp.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor twee leerders wat in ‘n diep gat vol rioolwater in Welkom verdrink het. Die tienjarige Rapelang Sejentu het probeer om sy vriend, die 11-jarige Loyiso Mkhekwa, te red toe hy ook ingeval het.
En tweedens skryf die koerant ook oor die Engelse se grootpratery.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die naam van die vermoorde omstrede sakeman, Mark Lifman is genoem in ‘n saak van ontvoering en seksuele teistering teen ‘n paartjie van Melkbosstrand.
Dan skryf die koerant die voormalige hoof van die NSRI, dr. Cleeve Robertson is deur die Internasionale Maritieme Reddingsfederasie vereer vir sy bydrae.
En laastens is daar ook nuus oor Suid-Afrikaners wat nie vir Sixty60 wil werk nie.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Justisie, Thembi Semilane ontduik steeds vrae oor haar betrokkenheid by die VBS Bank-bedrog.
En berig hoewel die werkloosheidsyfer verbeter het, is daar nog baie om te doen.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ad hoc-komitee wat bewerings teen Nelson Mandelabaai se onderburgemeester, Gary van Niekerk ondersoek, het sy bevindinge bevestig dat hy óf geskors óf as raadslid verwyder moet word.
En tweedens skryf die koerant ‘n afwaartse neiging in die werkloosheidskoers in Nelson Mandelabaai duur voort, en dis die laagste sedert 2015. Die afname beloop 6,4-persent teenoor die vorige kwartaal.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die polisie ondersoek ‘n man wat by afpersing van 30-miljoen-rand betrek word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vanaf 1 Januarie aanstaande jaar is bloedtrek deel van ’n konsultasie en kan dit nie meer afsonderlik gefaktureer word nie.
En tweedens skryf die koerant die statistikus-generaal en uitvoerende hoof van die Namibië Statistiekagentskap het erken ‘n “oorsigfout” is begaan om alle wit Namibiërs onder een breë kategorie in die 2023 Bevolking- en Behuisingsensusverslag te kategoriseer.