Nuus 06:00
BULLETIN 13 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die afname in die werkloosheidsyfer beteken ekonomiese hervorming moet versnel word
# Rise Mzansi dring aan op dringende optrede om die waterkrisis te takel
# En prins William word aangewys as die wêreld se seksieste kaalkopman
# Die DA sê die jongste werkloosheidsyfer ondersteun sy belangrikste onderneming aan Suid-Afrikaners: volhoubare, inklusiewe ekonomiese groei en betekenisvolle werkskepping. StatsSA se jongste Kwartaallikse Arbeidsopname toon ‘n afname in die werkloosheidskoers van 33,5-persent tot 32,1-persent. Jeugwerkloosheid bly egter hoog op 43,2-persent. Die DA sê die nuwe groei in werksgeleenthede moet ekonomiese hervorming versnel, Eskom se kragmonopolie afbreek en swak dienslewering in plaaslike regerings aanspreek.
ActionSA verwelkom intussen die effense verbetering in die werkloosheidsyfers in Suid-Afrika, maar vra vir waagmoedige maatreëls om die krisis met werkloosheid aan te pak. Woordvoerder Alan Beesley vra vir strenger regulering van die township-ekonomie om meer werk te skep:
# Rise Mzansi sê daar moet dringend opgetree word wat die groeiende waterkrisis betref en dit stem baie ooreen met die energiekrisis. Volgens die party is die krisis natuurlik en mensgemaak, wat vererger word deur verouderde infrastruktuur en ontoereikende bestuur. Woordvoerder Makashule Gana vra belegging in waterstelsels om betroubare toegang te verseker vir stedelike sowel as landelike gemeenskappe:
# Die Aartsbiskop van Kantelberg, Justin Welby, het bedank en sê hy is jammer omdat hy nie verseker het daar word na behore ondersoek ingestel na bewerings van misbruik teen ‘n vrywilliger by Christen-somerkampe van die Anglikaanse Kerk nie. John Smyth word daarvan beskuldig dat hy oor vyf dekades 100 seuns en jong mans in Brittanje en Afrika misbruik het. ʼn Onafhanklike hersiening het bevind Smyth kon moontlik voor die hof gebring word indien Welby ʼn dekade gelede die aangeleentheid amptelik by die polisie aangemeld het. Volgens Welby is dit duidelik hy moet persoonlike en bestuursverantwoordelikheid neem.
# Krieket: Die gewese Protea-kolwer Neil McKenzie is aangestel as raadgewende afrigter vir Sri Lanka voor die twee toetse teen Suid-Afrika. Hy sluit vandag by die besoekers aan vir net meer as ‘n week. Die hoof van Sri Lanka se Krieketraad, Ashley de Silva, sê McKenzie sal noodsaaklike diepgaande insigte oor plaaslike toestande verskaf. Die eerste toets begin die 27ste op Kingsmead in Durban en die tweede een op 5 Desember op St George-park in Gqeberha.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-491-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-597-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Prins William is vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die wêreld se seksieste kaalkopman. Dit is volgens Reboot Online, wat na verskillende faktore kyk, insluitend hoe blink die mans se koppe is en die goue verhouding, tussen die lengte van die gesig en glimlag. Die 42-jarige Prins van Wallis het 9,9 uit ‘n moontlike tien punte gekry. Tweede op die lys is die Hollywood-superster Dwayne ‘The Rock‘ met 8,9, gevolg deur die basketbalikoon Shaquille O’Neal derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….