Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof beslis beskuldigde nommer-3 in die Senzo Meyiwa-saak se aanhouding in C-Max is onregmatig
# Twee-honderd elektriese Ubers word volgende jaar in SA bekend gestel
# En rugby: Rassie speel weer kat-en-muis voor die kragmeting met Engeland
# Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis beskuldigde nommer drie in die Senzo Meyiwa-moordverhoor, Mthobisi Mncube, se aanhouding in C-Max is onregmatig. Meyiwa, die gewese kaptein van Bafana Bafana, is 10-jaar gelede in Gauteng vermoor. Die hof was bekommerd oor Mncube se bewerings van geestes-ongesteldheid. ‘n Soortgelyke versoek deur Fisokuhle Ntuli is van die rol geskrap nadat regter Jan Swanepoel gesê het dit is nie dringend nie. Swanepoel het beveel Mncube moet na enige ander maksimum sekerheidsentrum oorgeplaas word:
# Uber sal volgende jaar 200 elektriese voertuie in Suid-Afrika bekend stel, wat met ‘n toetslopie in Johannesburg sal begin. Hierdie groen veldtog, met BYD-vervaardigde elektriese motors, is tydens die Earthshot-prysgeleentheid in Kaapstad ten toon gestel. Uber sê hy het sy verbintenis tot volhoubaarheid hernu omdat hy daarop fokus om te help met die verlaging van koste gekoppel aan elektriese voertuig-eienaarskap. Die onderneming sê dit is ‘n belangrike stap in die rigting van ekovriendelike saamrygeleenthede in Suid-Afrika.
# Die Suid-Afrikaanse regering sit sy pogings voort om vrede te bemiddel in die Demokratiese Republiek die Kongo en Soedan. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering steun voortgesette onderhandelings en diplomatieke oplossings om die konflik in die DRK by te lê. Volgens Lamola werk die regering ook saam met globale vennote om die humanitêre krisis teen te werk en blywende vrede in Soedan te bewerkstellig:
# Vyf-en-dertig mense is dood en 43 beseer toe ‘n motoris opsetlik tussen mense ingejaag het by ‘n sportsentrum in die Chinese stad Zhuhai. Die 62-jarige man is aangekeer toe hy probeer vlug het. Die polisie sê hy het homself met ‘n mes gesteek en is in die hospitaal opgeneem. ‘n Voorlopige ondersoek het bevind hy was ongelukkig oor die verdeling van bates tydens sy egskeiding. Geweldsmisdaad kom selde in China voor weens streng veiligheidsmaatreëls en vuurwapenwette, maar daar is skynbaar ‘n styging in mesaanvalle.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het besluit om die teenstanders so lank as moontlik te laat raai en sal die span vir Saterdag se kragmeting met Engeland op Twickenham eers Donderdag aankondig. Hy het verlede week die groep vir die wedstryd teen Skotland ook eers twee dae voor die tyd bekendgemaak. Erasmus sal na verwagting sy sterkste beskikbare span kies nadat hy elf veranderinge aangebring het vir die toets teen Skotland. Daar is veral belangstelling oor wie hy in die nommer 10-trui gaan kies, Handré Pollard of Manie Libbok.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-108-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-613-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….