Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika steun politieke bestendigheid in Mosambiek
# Rugby: Rassie speel weer kat-en-muis voor die kragmeting met Engeland
# En, die Suid-Koreaanse president begin gholf speel ter voorbereiding vir Trump se tweede termyn
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering is daartoe verbind om politieke bestendigheid in Mosambiek te steun. Hy verwelkom die terugkeer na normaliteit by die Lebombo-grenspos in Mpumalanga na voortslepende betogings in die buurland. Lamola het teenoor die media die belangrikheid beklemtoon om verkiesingsuitslae deursigtig te bekragtig. Volgens hom bly die regering daartoe verbind om vrede en bestendigheid in die streek te bevorder deur samewerking met buurlande:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê Transnet se ingrypings om doeltreffendheid te verhoog in die hawens van Kaapstad en Saldanhabaai het positiewe gevolge getoon. Sy het tydens haar besoek gewys op die bekendstelling van 75 nuwe masjiene vir die laai en aflaai van skepe. Creecy sê ‘n nuwe besprekingstelsel vir vragmotors sal ook help dat vrag vinniger afgelaai word, hoewel daar nog kommer is oor die hawens se algehele prestasie.
# CapeNature en die Nasionale Vervolgingsgesag het in die afgelope drie boekjare 109 sake van vetplantstropery in die hof voorgelê. DA-lid, Dave Bryant, sê dit het gelei tot 57 skuldigbevindings, met tien onskuldigbevindings en 42 wat nog voortgaan. Hy sê strawwe vir hierdie misdade sluit in boetes van tussen 500-rand tot een-miljoen-rand, en tronkstraf van 150 dae tot twee jaar:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het besluit om die teenstanders so lank as moontlik te laat raai en sal die span vir Saterdag se kragmeting met Engeland op Twickenham eers Donderdag aankondig. Hy het verlede week die groep vir die wedstryd teen Skotland ook eers twee dae voor die tyd bekendgemaak. Erasmus sal na verwagting sy sterkste beskikbare span kies nadat hy elf veranderinge aangebring het vir die toets teen Skotland. Daar is veral belangstelling oor wie hy in die nommer 10-trui gaan kies, Handré Pollard of Manie Libbok.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-38-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-607-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-47-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Koreaanse president, Yoon Suk Yeol, het die eerste keer in agt jaar weer begin gholf speel ter voorbereiding vir gholf-diplomasie met die verkose Amerikaanse president, Donald Trump. Gholf is reeds bekend as ‘n betroubare deurpad na Trump, wie se gholfbane honderde miljoene dollar vir sy sakeryk verdien. Daar is toenemende vrese oor die bedreiging wat die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, vir Amerika en sy bondgenote inhou. Suid-Korea het egter as ‘n sterk Amerikaanse bondgenoot na vore getree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….