Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Werkloosheid daal tot 32,1-persent in die derde kwartaal
# Watertekorte stop fisiese verhore in die Konstitusionele Hof
# En, rugby: ‘n Ierse vleuel sê hulle gaan hulle regruk na die nederlaag teen die All Blacks
# Die amptelike werkloosheidsyfer vir die derde kwartaal van 2024 het met 1,4-persentasiepunte gedaal tot 32,1-persent, vergeleke met die 33,5-persent van die tweede kwartaal. Volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagopname was daar ‘n toename van 294-duisend in die aantal werkende mense met ‘n afname van 373-duisend ten opsigte van werkloses. Die ekonomies onaktiewe bevolking het tot 16,5-miljoen toegeneem. Die uitgebreide werkloosheidsyfer vir die derde kwartaal het met 0,7 van ‘n persentasiepunt gedaal tot 41,9-persent. Dit sluit in die mense wat opgehou het om werk te soek.
# Die Konstitusionele Hof in Johannesburg het fisiese verhore opgeskort weens die onbetroubare watertoevoer wat sedert 1 November sy bedrywighede raak. Volgens die hof is die lekkasies in die gebou se waterstelsel herstel, maar daar is geen waarborg oor die Stad Johannesburg se daaglikse hervulling nie, en die rugsteunwatertenk hou slegs ‘n dag. Die kantoor van die hoofregter sê daar is deurlopende samesprekings met stadsowerhede en Rand Water om die kwessie spoedig op te los.
# Ongeveer 13-duisend-831 verdagtes is verlede week in landwye Shanela-operasies in hegtenis geneem. Die verdagtes is aangekeer vir misdade wat insluit moord, verkragting, geslagsgeweld, die onwettige besit van vuurwapens en dronkbestuur. Polisie-woordvoerder Amanda van Wyk sê een-duisend-597 onwettige buitelandse burgers is ook agter tralies. Sy voeg by 151 vuurwapens is die afgelope week in beslag geneem, wat 52 meer is as die vorige week:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het leiers tydens COP 29 in Baku, Azerbaijan, aangemoedig om hul beloftes oor klimaatsbefondsing na te kom. Guterres het die behoefte beklemtoon om globale uitstralings jaarliks met tot nege-persent te verminder. Hy wys op dringende behoeftes in ontwikkelende lande, veral rakende klimaatsbefondsing, en beklemtoon 80-persent van die wêreldbevolking moet sterker klimaatoptrede ondersteun om ware klimaatsgeregtigheid te bereik:
# Rugby: Die Ierse vleuel, Mack Hansen, sê hulle gaan hulle regruk na verlede naweek se nederlaag teen die All Blacks waarmee hulle ook hulle eerste plek op die wêreldranglys kwyt is. Dit beëindig ook hulle lopie van 19 onoorwonne wedstryde op die Aviva-stadion in Dublin. Die Iere speel Vrydagaand op dieselfde stadion teen Argentinië. Volgens Hansen staan mense altyd reg om jou te stenig wanneer jy verloor, maar hulle is vasbeslote om baie dinge reg te stel teen Los Pumas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-11-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-596-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….