Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Smile-stigting bied die einde van hierdie maand sy jaarlikse fliek-aand aan by die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin in Gauteng. Gesinne kan uitsien na Disney Pixar se Inside Out, wat ‘n betowerende aand onder die sterre beloof terwyl hulle ʼn goeie saak ondersteun. Die opbrengs sal gebruik word om gesplete lip- of verhemelte-operasies op kinders uit te voer. Kaartjies vir volwassenes kos 100-rand, kinders s’n is 50-rand, en kinders jonger as drie betaal niks nie.
# Die langverwagte 2024-uitgawe van die BODY MOVES-internasionale inklusiewe dansfees is later die maand en in Desember op pad na Gauteng en die Wes-Kaap. Vanjaar se fees maak ‘n deurbraak met samewerking tussen Suid-Afrika en Brittanje, deur Mark Smith Productions en Very Easy Productions. Een van die sterre is die beroemde Britse dowe danser en choreograaf, Mark Smith, en Bells and Sirens 2 gechoreografeer deur Thapelo Kotlolo en uitgevoer deur Jabu Vilakazi en Keaoleboga Seodigeng.
# ‘n Nagraadse student in biochemie en mikrobiologie aan die Nelson Mandela-universiteit het die beste ontwerp van ‘n bieretiket-afdeling gewen op die jaarlikse nasionale Intervarsity-brou-en-proe-uitdaging. Die wenetiket was vir hulle bier Tide Rider en hulle maatskappy, Tides Brewing. Die span het weggestap met tien-duisend-rand. Die universiteit sê die kompetisie dien as ‘n platform om akademiese netwerkvorming te bevorder en gegradueerdes wat belangstel in ‘n bierbrouloopbaan met vennote in die bedryf te verbind, soos Suid-Afrikaanse Brouerye.
# Die Yale-universiteit gaan ‘n kursus instel met die titel Beyoncé Makes History: Black Radical Tradition History, Culture, Theory and Politics through Music. Die kursus sal fokus op die 32-malige Grammy-wenner se werk, van die album na haar vernoem in 2013 tot haar jongste een, Cowboy Carter. Dit sal aangebied word deur die musiekprofessor in Afrika-Amerikaanse studie Daphne Brooks. Universiteite reg oor Amerika het ook lesings aangebied oor Taylor Swift, Lady Gaga and Harrison Ford.
# En ten slotte: ‘n Keiserpikkewyn is die eerste keer in Australië aangetref, meer as drie-duisend-500-kilometer noord van die Antarktiese kus. Die wangevoede, volwasse mannetjie, wat Gus genoem word, is op ‘n toeriste-strand in die dorp Denmark in die suidweste van die land gekry. Die keiser is die grootste pikkewynspesie. Belinda Cannell van die Universiteit van Wes-Australië sê die spesie is nog nooit tevore in die land aangemeld nie. ‘n Seevoël-rehabiliteerder sorg intussen vir Gus tot daar ‘n besluit oor sy toekoms geneem word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….