Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Presidensiële Klimaatskommissie het aangesluit by die Suid-Afrikaanse afvaardiging op COP29 in Baku, Azerbeidjan, onder leiding van minister Dion George. COP 29, met die tema, In Solidariteit vir ‘n Groen Wêreld, fokus op ambisieuse klimaatfinansieringsteikens en die bedryf van die Verlies- en Skadefonds. Crispian Olver van die kommissie beklemtoon die dringendheid en wys op die klimaatgedrewe rampe van 2024 wat kwesbare gemeenskappe geraak het. Die kommissie sal gesprekke aanbied by die Suid-Afrikaanse pawiljoen met die fokus op pogings tot aanpassings en versagting.
# Rekordvlakke van dik, giftige rookmis wat sedert verlede maand oor die oostelike dele van Pakistan en Noord-Indië hang, kan op satellietbeelde gesien word. Die besoedeling het die owerhede in Pakistan gedwing om skole en openbare ruimtes te sluit, aangesien dit die gesondheid van miljoene mense bedreig. Pasiënte wat ly aan die gevolge van die besoedeling oorval hospitale en klinieke in Pakistan en gesondheidsamptenare in Punjab sê meer as 30-duisend mense is vir asemhalingskwale behandel. Lugbesoedeling weens fossielbrandstowwe veroorsaak jaarliks die dood van 5,1-miljoen mense wêreldwyd.
# En ten slotte: ‘n Keiserpikkewyn is die eerste keer in Australië aangetref, meer as drie-duisend-500-kilometer noord van die Antarktiese kus. Die wangevoede, volwasse mannetjie, wat Gus genoem word, is op ‘n toeriste-strand in die dorp Denmark in die suidweste van die land gekry. Die keiser is die grootste pikkewynspesie. Belinda Cannell van die Universiteit van Wes-Australië sê die spesie is nog nooit tevore in die land aangemeld nie. ‘n Seevoël-rehabiliteerder sorg intussen vir Gus tot daar ‘n besluit oor sy toekoms geneem word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….