Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Die afrigter van die Springbok Sewes, Philip Snyman, sê hy sien uit na die opbou van groepsdiepte in die aanloop tot die komende Wêreldreeks. Die Blitsbokke sal vir minstens die eerste twee toernooie in Dubai en Kaapstad sonder kaptein Selvyn Davids en Tiaan Pretorius wees, wat beseer is. Rosko Specman is nie meer deel van die sewesprogram nie, terwyl Justin Geduld hom aangesluit het by die Stormers. Snyman sê daar is verskeie sterk en ervare leiers in die groep:
Ander rugbynuus: Oudkaptein Sam Cane en die vleuel Mark Tele’a sal nie Saterdag in Parys vir die All Blacks kan speel teen Frankryk nie. Die flank het ‘n diep sny aan sy kop opgedoen tydens verlede week se oorwinning oor Ierland en dit kan die einde van sy loopbaan beteken, want hy beplan om na die toer uit te tree. Tele’a het sy hand beseer, en die slot Sam Darry is vroeër huis toe met ‘n ernstige kniebesering. Hulle word vervang deur Du’Plessis Kirifi, Chay Fihaki en Fabian Holland.
# Vervolgens, krieket: Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka en Seshnie Naidu is nie in die Proteasspan vir die T20-reeks teen Engeland wat die 24ste begin nie. Kapp en Khaka kry ruskans en Naidu skryf haar matriek-eindeksamen. Bestuur het die medium-snelbouler Eliz-Mari Marx en die veelsydige Nondumiso Shangase herroep. Kaptein Laura Wolvaardt, Nadine de Klerk en Chloé Tryon keer betyds terug van die Vroue-Big Bash-liga in Australië vir die reeks van drie kragmetings. Dit word gevolg deur drie eendagwedstryde en ‘n eenmalige toets.
Pakistan het intussen aangekondig Indië gaan nie deelneem aan die Internasionale Krieketraad se Kampioenetrofee-toernooi wat in Februarie en Maart in die land plaasvind nie. Dit sal die eerste keer in byna 30 jaar wees dat Pakistan ‘n internasionale toernooi aanbied. Indië se besluit word toegeskryf aan die voortgesette politieke spanning tussen die twee buurlande. Die IKR moet nog op die aankondiging reageer. Die toernooi behels die gasheerland en die sewe beste lande in die groepsfase van verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in ‘n 50-boulbeurt-formaat.
# Ons sluit af met sokker: Die Engelse Premierliga-skeidsregter David Coote is onmiddellik geskors. Dit volg op ‘n video wat blykbaar wys hoe hy neerhalende opmerkings maak oor Liverpool en hulle voormalige afrigter, Jurgen Klopp. Die video verwys blykbaar na ‘n wedstryd wat Coote in Julie 2020 beheer het tussen Liverpool and Burnley, wat een-elk gelykop geëindig het. Klopp het Coote na die wedstryd gekritiseer en gesê die skeidregter het nie straf uitgedeel na uitdagings teen Liverpool se spelers nie. Die 42-jarige is een van die Premierliga se mees ervare beamptes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….