Nuus 07:00
BULLETIN 12 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sien ’n geleentheid met die onttrekking van die SABC-wetsontwerp
# Die Kremlin ontken berigte dat Trump Putin versoek het om nie die oorlog in Oekraïne te eskaleer nie
# En Jamie Oliver onttrek sy kinderboek uit die mark
# AfriForum doen ‘n beroep op minister Solly Malatsi om meer privatisering van die SABC te oorweeg ná die terugtrekking van die SABC-wetsontwerp, wat daarop gemik was om die uitsaaier se finansiële kwessies aan te pak. AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, Ernst van Zyl, sê die organisasie deel Malatsi se siening en sê die wetsontwerp skenk nie aandag aan die SABC se behoefte aan ‘n lewensvatbare befondsingsmodel nie. Hy ondersteun ook die skrap van TV-lisensies:
# Die IVP verwelkom die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, se nuwe standaard konsep-verordening vir township-ekonomieë. Die verordening se doel is om ‘n geskikte omgewing vir klein sakeondernemings in townships te skep, ekonomiese insluiting te ondersteun, werk te skep en die gemeenskap te bemagtig. Die IVP sê die verordening sal ook buitelanders se ondernemings in townships reguleer en landsburgers se sakeregte met verbruikersregte balanseer. Hy sê dit sal die krisis van besmette kos of dié waarvan die vervaldatum bereik is, in plaaslike spazawinkels aanspreek.
# Die DA in Gauteng sê Johannesburg se burgemeester, Dada Morero en sy leierskap onder die ActionSA-EFF-ANC-koalisie behoort hulle te skaam dat twee kabinetsministers moes ingryp by die metro se sake. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, en minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het gister met die stad se leierskap vergader om oor die metro se Eskom-skuld en die waterkrisis te praat. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê City Power en Johannesburg Water is deur ʼn onbevoegde uitvoerende gesag vernietig:
# Die Kremlin ontken berigte dat Amerika se gekose president Donald Trump verlede week per telefoon met president Vladimir Putin gepraat en hom gewaarsku het om nie die oorlog in Oekraïne te vererger nie. Volgens die Washington Post het Trump tydens die oproep vir Putin herinner aan Washington se groot militêre teenwoordigheid in Europa. Die koerant berig ook Trump wil binnekort verdere gesprekke voer om ʼn oplossing te vind vir die konflik in Oekraïne. Die Kremlin sê die berigte is suiwer fiksie.
# Rugby: Daar is twyfel oor die fiksheid van die voormalige kaptein van die All Blacks, Sam Cane, vir eerskomende naweek se kragmeting teen Frankryk in Parys. Hy moes steke kry na ʼn stamp en ʼn diep wond aan sy kop tydens die oorwinning oor Engeland. Slot Sam Darry is huis toe nadat hy sy knie tydens oefening beseer het. Hoofafrigter Scott Robertson glo losskakel Beauden Barrett en haker Cody Taylor sal fiks wees nadat hulle die wedstryd teen Engeland weens harsingskudding misgeloop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-926-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-624-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekende sjef, Jamie Oliver, het sy nuwe kinderboek van die rakke onttrek na besware dat dit inheemse Australiërs stereotipeer. Die fantasieroman, Billy and the Epic Escape, handel oor ʼn Australiese inboorling-meisie met geheime kragte wat in pleegsorg is, wat uit haar huis in sentraal-Australië ontvoer word. Volgens die uitgewer, Penguin Random House UK, het Oliver versoek dat inheemse Australiërs oor die boek geraadpleeg word, maar “redaksionele versuim” het meegebring dat dit nie gebeur nie. Die uitgewer erken in ʼn verklaring sy uitgewerstandaarde het tekort geskiet en die maatskappy moet daaruit leer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….