Nuus 11:00
BULLETIN 11 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek die regering om voedselveiligheidstandaarde op te skerp
# Adjunkminister Gungubele stem nie saam met die terugtrekking van die SABC-wetsontwerp nie
# En die Suid-Afrikaanse sangeres Tyla wen drie MTV Europe-musiektoekennings
# Die DA sê die ernstige tekort aan omgewingsgesondheidpraktisyns en die Gesondheidsdepartement se onvoldoende oorsig oor voedselveiligheidstandaarde, dra by tot die vlaag voedselvergiftiginggevalle in die land. In Gauteng is meer as 400 gevalle en 23 sterftes aangemeld, waarvan die meeste kinders was. Karl le Roux van die DA sê die krisis is ‘n verdoemende aanklag teen bestuur wat toegelaat het dat gesondheid- en veiligheidsinspeksies oor die jare verval het:
# Die adjunkminister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele, stem nie saam met minister Solly Malatsi se besluit om die SABC-wetsontwerp in die Parlement terug te trek nie. Die minister voer aan dit hanteer nie die openbare uitsaaier se befondsingsmodel na behore nie, en gee die minister te veel mag in die raad se aanstelling. Gungubele het die wetsontwerp in Oktober verlede jaar voorgestel terwyl hy minister was. Hy sê die terugtrekking sal pogings verder vertraag om die SAUK se finansiële probleme te hanteer.
# ActionSA in Johannesburg sê die afdanking van die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling, Kabelo Gwamanda, stem ooreen met sy toewyding aan etiese leierskap en aanspreeklikheid. Die Al Jama-ah-raadslid word in ‘n voortgesette hofsaak aangekla dat hy mense om die bos gelei het met ‘n begrafnispolisbedrogspul. Khomo Mashala van ActionSA sê Gwamanda se verwydering sal help om inwoners se vertroue te herstel en beleggersvertroue versterk:
# Krieket: Kaptein Jos Buttler het 83 aangeteken om Engeland te help om die Wes-Indiese Eilande met sewe paaltjies te verslaan in die tweede T20 in Barbados. Dit gee hulle ‘n voorsprong van twee-nul in die reeks van vyf wedstryde. Die tuisspan het 158 vir agt aangeteken na kaptein Rovman Powell se 43. Buttler het daarna ‘n vennootskap van 129-lopies om die tweede paaltjie gedeel met Will Jacks, voor Liam Livingstone ‘n onoorwonne 23 geslaan het. Engeland het gewen met 31 balle oor. Die derde T20 word Dinsdag in St Lucia gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-862-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-671-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-77-sent per vat.
# En, die Suid-Afrikaanse sangeres Tyla het drie toekennings ingepalm op die MTV Europe-musiektoekennings wat in Manchester, Engeland, gehou is. Sy was die wenner van Beste R&B, Beste Afrobeats, en Beste kunstenaar uit Afrika. Die popsuperster Taylor Swift was die groot wenner met vier toekennings, naamlik Beste Kunstenaar, Beste Video vir haar samewerking met Post Malone aan Fortnight, Beste konsertvertoning, en Beste Amerikaanse bydrae. Onder die ander wenners was Eminem, Ariana Grande en Raye. Tyla sê sy is geëerd en geskok oor haar toekennings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….