Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Stad Johannesburg werk saam met minister Ramokgopa om kraguitdagings op te los
# ‘n Oos-Kaapse vrou word aangekla van moord op haar seun vir versekeringsgeld
# En, rugby: Eben Etzebeth gaan die Bokke Sondag aanvoer teen Skotland
# Die Stad Johannesburg werk saam met die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, oor die stad se voortslepende kragprobleme. Burgemeester Dada Morero en Ramokgopa het tydens die burgemeesters-lekgotla beraadslaag oor oplossings vir die strydpunte tussen Eskom en City Power oor ononderbroke diens. Dit volg na Eskom se verklaarde voorneme om kragtoevoer na die munisipaliteit te onderbreek oor skuld van 4,9-miljard-rand. ’n Formele vergadering vind Maandag plaas om oplossings vir ononderbroke kragtoevoer deur te trap en die gemeenskap se kwellinge oor kragkwessies op te los.
Skuld aan Eskom is intussen boaan die besprekingslys van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering se Wes-Kaapse vergadering in Mosselbaai. Vier munisipaliteite in die provinsie skuld die kragvoorsiener saam byna 300-miljoen-rand. Salga se Wes-Kaapse verteenwoordiger op die nasionale uitvoerende komitee, Thami Ngubane, het aan die SABC gesê sommige verbruikers betaal nie munisipaliteite nie, wat dan nie vir Eskom kan betaal nie:
# ‘n Nege-en-veertigjarige vrou het in die New Brighton-landdroshof in Gqeberha verskyn op aanklagte van moord en sameswering na die dood van haar 22-jarige seun. Shayhieda Dollie het na bewering huurmoordenaars geva om haar seun, Moegamat Thaafir Dollie, te vermoor om ‘n versekerings-uitbetaling van twee-miljoen-rand te bekom. Luxolo Tyali van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die hof het borgtog geweier en die saak is tot volgende Vrydag uitgestel.
# Die Landelike en Plaaswerkers Ontwikkelingsorganisasie doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om plaaswerkers se onveilige vervoerpraktyke te beëindig. Dit volg nadat twee werkers dood en verskeie beseer is toe ‘n bakkie wat 22 werkers vervoer het, Woensdag naby Wellington in die Wes-Kaap omgeslaan het. Billy Claasen van die organisasie beweer owerhede het herhaalde versoeke vir veiliger vervoerregulasies geïgnoreer:
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith speel Sondag sy 50ste toets wanneer die Springbokke Skotland op Murrayfield aandurf. Die slotte Franco Mostert en RG Snyman keer terug ná ‘n lang afwesigheid weens beserings. Afrigter Rassie Erasmus het Eben Etzebeth as kaptein aangewys met Siya Kolisi wat op die bank begin. Daar is sewe voorspelers en een agterspeler op die bank. Elf veranderinge is aangebring aan die opdrafspan wat Argentinië in September in hul laaste wedstryd van die Rugbykampioenskap verslaan het. Jaden Hendrikse begin op skrumskakel met Handré Pollard as losskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-225-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-698-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….