Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Water en Sanitasie benodig 90-miljard-rand om aandag te gee aan agterstande in waterinfrastruktuur
# Sokker: Frankryk gaan nie die Nasiesliga-wedstryd teen Israel afstel nadat Israelse ondersteuners in Amsterdan geteiken is nie
# En Trump se gewese regsverteenwoordiger moet kosbare besittings afstaan aan vroue wat hy vals beskuldig het
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê haar departement benodig bykans 90-miljard-rand om die infrastruktuur-agterstand aan te pak wat toegang tot skoon water belemmer. Sy het gereageer op ‘n geskrewe parlementêre vraag van BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die minister het reeds probeer om die skuld vir die watervoorsieningskrisis na munisipaliteite oor te dra:
Die Stad Tshwane sê intussen sy reservoirs se watervlakke is kritiek laag weens ‘n kragonderbreking by die Palmiet-aanjaagpompstasie. Rand Water het bykomende inlaatkleppe by die Hartbeeshoek-reservoir oopgemaak om die inhoud tot 40-persent op te stoot in ‘n poging om die herstel te bespoedig. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê sommige gebiede by Atteridgeville kry reeds water terwyl die reservoirs by The Reeds en Lotus leeg bly:
# Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en belanghebbende groepe sal raadplegingsgesprekke voer oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Die uitvoerende hoof, Lance Schultz, het aan Newzroom Afrika verduidelik hoe belangrik die raad se verbintenis tot die beskerming van moedertaalonderrig is, en die voorkoming van taalgebaseerde uitsluiting beklemtoon. Hy sê die raad sal bemiddel oor taalregte en voorspraak maak vir tweetalige onderwys om Suid-Afrika se uiteenlopende, veeltalige samelewing te ondersteun:
# Sokker: Frankryk weier om volgende week se Nasiesliga-wedstryd teen Israel in Parys af te stel as gevolg van onlangse geweld teen Israelse ondersteuners in Amsterdam, Nederland. Volgens die Franse polisie gaan hulle meer as twee-duisend polisiebeamptes rondom die Stade de France ontplooi om Donderdag se wedstryd te beveilig en ‘n buitengewoon groot veiligheidskordon oprig. Die minister van Binnelandse Sake, Bruno Retailleau, sê Frankryk sal nie terugdeins nie, want dit sal neerkom op oorgee aan dreigemente en anti-Semitisme.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-172-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-689-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Donald Trump se voormalige prokureur, Rudy Giuliani, het tot einde volgende week om sy sleutels en die titel van sy klassieke motor te oorhandig aan vroue wat hy belaster het. ‘n Federale regter het beslis Giuliani moet ook twee dosyn horlosies, meubels en sportgedenkwaardighede aan Ruby Freeman en Shaye Moss stuur of andersins van minagting van die hof aangekla word. Hy het die verkiesingswerkers van Georgia vals beskuldig van bedrog tydens 2020 se verkiesing. Giuliani is voorheen gelas om teen verlede Dinsdag sy waardevolste en sentimentele besittings te oorhandig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….