Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Water en Sanitasie benodig 90-miljard-rand om aandag te gee aan die agterstande in waterinfrastruktuur
# Drie mense is voorlopig aangekla oor die Britse sanger Liam Payne se dood in Buenos Aires
# En, krieket: Pakistan verpletter Australië in die tweede eendagwedstryd in Adelaide
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê haar departement benodig bykans 90-miljard-rand om die infrastruktuur-agterstand aan te pak wat toegang tot skoon water belemmer. Sy het gereageer op ‘n geskrewe parlementêre vraag van BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die minister het reeds probeer om die skuld vir die watervoorsieningskrisis na munisipaliteite oor te dra:
Die EFF in Gauteng gee die ANC se kaderontplooiing intussen die skuld vir die verergering van Johannesburg se waterkrisis, wat veroorsaak dat gebiede soos Midrand, Fourways en Buccleuch reeds byna ‘n week geen betroubare watertoevoer het nie. Die EFF vorm wel deel van die koalisieregering, maar die party beweer ongekwalifiseerde individue wat in Johannesburg Water se bestuur aangestel is, het die stad se verouderende waterinfrastruktuur in die gedrang gebring, wat die voortdurende voorsieningsprobleme veroorsaak het. Die EFF-lid, Dumisani Baleni, voer aan politieke vriendskappe het tegniese kundigheid vervang:
# Die DA het Eskom se voorgestelde verhoging in vaste netwerkheffings veroordeel en beweer Suid-Afrikaners wat sonpanele gebruik, word onregverdig gestraf. Die DA-woordvoerder, Kevin Mileham, waarsku verbruikers gaan moontlik reuse-verhogings van tot 321-persent ontvang weens Eskom se wanbestuur. Hy sê die DA dring daarop aan dat NERSA Eskom se planne verwerp en pleit vir ‘n regverdiger, volhoubare energietoekoms wat hernubare beleggings ondersteun:
# Drie mense word in Argentinië voorlopige aangekla van misdade in verband met die dood van die Britse sanger Liam Payne. Die voormalige lid van die popgroep, One Direction, is verlede maand dood nadat hy van die derde verdieping van ‘n hotel geval het. ‘n Werknemer van die hotel en ‘n vermeende dwelmhandelaar is onder die drie mense wat ondersoek word omdat hulle hom vermoedelik voor sy dood verlaat het, asook die verskaffing en beskikbaarstelling van dwelms. Die ander persoon het glo daagliks tyd met Payne deurgebring tydens sy besoek aan Buenos Aires.
# Krieket: Pakistan het Australie met nege paaltjies verslaan in die tweede eendagwedstryd in Adelaide om die reeks van drie wedstryde gelykop te maak. Die gashere is in die 35ste boulbeurt vir 163 uitgehaal nadat Haris Rauf vyf paaltjies laat kantel het. Steve Smith het 35 aangeteken, maar nie een van die ander kolwers kon 20 haal nie. Pakistan het die teiken in die 27ste boulbeurt verbygesteek met net een paaltjie plat, na ‘n blitsige 82 van net 71 aflewerings van Saim Ayub. Die beslissende wedstryd vind Sondag in Perth plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-349-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-688-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….