Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party vra vir ‘n misdaadberaad in die Wes-Kaap om bande tussen bendes en wetstoepassing te ontbloot
# ‘n Toename word ondervind in klagtes oor tweedehandse voertuie
# En, krieket: ‘n Windies-bouler is vir twee wedstryde geskors nadat hy van die veld storm tydens ‘n wedstryd
# Die GOOD-party vra dat ‘n provinsiale misdaadberaad in die Wes-Kaap gehou word om aandag te gee aan beweerde bande tussen bendebase en amptenare in die provinsie. Dit volg op ‘n debat oor onlangse massamoorde in Bishop Lavis, Atlantis en Khayelitsha. Brett Herron van GOOD wys daarop figure soos Mark Lifman gebruik politieke vriendskappe om misdaadnetwerke te verbloem. Hy vra die regering om ‘n misdaadberaad te belê om oplossings te vind vir die provinsie se toenemende bendegeweld:
Die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie beplan intussen om die pogings van die Polisiediens te evalueer om afpersing teen meetbare uitkomste te bekamp. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu,het verlede maand onthul dat die Georganiseerde Misdaad-ondersoekafdeling binne die Speur- en Forensiese Dienste sedert April verlede jaar 312 afpersingsake ondersoek het, waarby bendes betrokke is wat klein ondernemings teiken. Die komitee se voorsitter, Ian Cameron, het in ‘n onderhoud met News24 en die Hanns Seidel-stigting die polisie se afpersingstrategie gekritiseer en as ondoeltreffend bestempel.
# Die DA in Johannesburg sê Eskom het besluit om weer beurtkrag in die metro af te dwing weens die munisipaliteit se versuim om sy rekening van 6,3-miljard-rand te vereffen. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die party is uiters bekommerd oor die uitwerking hiervan op inwoners en sakeondernemings wat ook weens hierdie vermybare beurtkrag geraak word. Sy sê die bewerings van ‘n ingewortelde kaping en wanbestuur by City Power is ook uiters kommerwekkend:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n skerp toename aangemeld in klagtes van verbruikers wat tweedehandse voertuie koop met foute wat nie verklaar word nie. Die kommissie ontvang gemiddeld 250 tot 300 klagtes van mense wat gebruikte voertuie koop. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, het aan Newzroom Afrika gesê die klagtes sluit in dat kopers nie inligting oor die voertuig ontvang nie of binne ʼn kort tydjie probleme ondervind:
# Krieket: Die Windies-bouler Alzarri Joseph is vir twee wedstryde geskors nadat hy Woensdag van die veld gestorm het tydens die laaste eendagwedstryd teen Engeland in Bridgetown. Hy was ontevrede met sy kaptein, Shai Hope, en het die veld verlaat voor hy kort daarna teruggekeer het om sy volgende boulbeurt te boul. Die Wes-Indiese Eilande se Krieketraad sê Joseph is skuldig bevind aan gedrag wat nie voldoen aan die standaard van die beroepspel nie. Hy het Hope, sy spanmaats en bestuur om verskoning gevra en gesê sy emosies het oorgeneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-56-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-686-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….