Nuus 09:00
BULLETIN 8 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die TLU SA skryf aan Ramaphosa oor die Onteieningswetsontwerp
# Martin Jackson wat uit die Boksburg-gevangenis ontsnap het, is weer gearresteer
# En ten minste 18 is dood in geweld na die Mosambiekse verkiesing
# Die landbou-urganisasie TLU SA het skriftelik aan president Cyril Ramaphosa hulle kommer uitgespreek oor adjunk-president Paul Mashatile se versoek om die Wetsontwerp op Onteiening so gou moontlik te onderteken. Die wetsontwerp wat in Maart deur die Parlement goedgekeur is, is ‘n uiteensetting van die proses vir eiendomsonteiening vir openbare doeleindes of in die openbare belang. Bennie van Zyl van TLU SA sê die president moet die omstrede bepaling oor onteiening sonder vergoeding uit die wetsontwerp verwyder:
# Eskom het ‘n toekenningsooreenkoms van 125-miljoen-rand met die Franse Ontwikkelingsagentskap aangegaan om die Tubatse-pompbergingsprojek in Limpopo te verbeter. Die projek van 1,5-gigawatt is ontwerp as ‘n openbare-private vennootskap, met die doel om die bergingsvermoë van energie te verbeter. Uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê befondsing sal dit moontlik maak om ‘n transaksie-raadgewer aan te wys om ‘n lewensvatbaarheidstudie uit te voer en die sakegeleentheid vroeg in 2026 te finaliseer. Hy beklemtoon die projek is noodsaaklik vir die ondersteuning van die groei van hernubare energie, ingevolge die energie-oordragplan van Suid-Afrika.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het bevestig dat Martin Jackson wat Woensdag uit die Boksburg-gevangenis in Johannesburg ontsnap het, weer aangekeer is. Hy is in April 2015 tronk toe gestuur waar hy ‘n vonnis van 20 jaar uitdien vir roof, diefstal en die besit van ‘n vuurwapen met ammunisie. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê die vinnige arrestasie dui op die departement se toegewydheid om te verseker alle gevangenes dien hulle vonnisse uit soos deur die hof beveel:
# Human Rights Watch sê veiligheidsmagte het minstens 18 mense doodgemaak sedert betogings ná Mosambiek se verkiesing uitgebreek het. Die land loop deur onder geweld sedert die Frelimo Party wat al byna 50 jaar lank regeer, die verkiesing op 9 Oktober gewen het. Opposisiepartye en die Europese Unie beweer egter daar was verkiesingsbedrog. Die geweld het veroorsaak dat Suid-Afrika die Lebombo-grenspos, een van die besigste tussen die twee lande, gesluit het. Human Rights Watch sê die polisie moenie onnodige geweld gebruik nie.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, is vol vertroue dat sy groep van 23 in die laaste twee kwalifiserende wedstryde vir die Afrikanasies-beker, sukses sal behaal. Die Suid-Afrikaners het agt punte en is tweede in Groep K. Hulle deelname aan volgende jaar se AFCON in Marokko hang af van hulle kragmetings teen Uganda en Suid-Soedan. Sage Stephens is die eerste keer opgeroep terwyl Percy Tau uitgelaat is. Broos sê Tau kry nie genoeg wedstryd-blootstelling by Al Ahly nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-44-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-694-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….