Nuus 08:00
BULLETIN 8 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan beleidspanning met die SAKP bespreek
# Die NVG is vol vertroue dat Magudumana se appèl nie sal slaag nie
# En Trump maak sy eerste belangrike Withuis-aanstelling
# Die ANC het aangekondig hy gaan in gesprek tree met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party na onlangse spanning oor beleidsrigting. Die hoofsekretaris van die SAKP, Solly Mapaila, het die leierskap van die ANC openlik gekritiseer, insluitend president Cyril Ramaphosa. Die sekretaris-generaal van die party, Fikile Mbalula, sê hoewel die ANC waarde heg aan sy alliansie met die SAKP, glo hulle verskille moet intern besleg word met respek vir hulle gedeelde geskiedenis:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy is vol vertroue dat Nandipha Magudumana se appèl sal misluk, selfs al nader sy die Konstitusionele Hof. Die Appèlhof het uitspraak voorbehou in Magudumana se aansoek dat haar inhegtenisneming in Tanzanië onregmatig verklaar word. Sy voer aan haar deportasie was ‘n verskuilde uitlewering. Die NVG se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, het aan Newzroom Afrika gesê Magudumana se regspan kon nie bewys dat die polisie ʼn rol in haar deportasie gespeel het nie:
# Amerika se aangewese president Donald Trump het aangekondig sy veldtogbestuurder, Susie Wiles, sal sy Withuis-personeelhoof en eerste vrou in dié amp wees. ʼn Personeelhoof dien as die president se vertroueling en help om mededingende politieke en beleidsvoorkeure se balanseer. Trump sê Wiles het hom gehelp om een van die grootste politieke oorwinnings in Amerika se geskiedenis te behaal en was ʼn integrale deel van sy suksesvolle veldtogte in 2016 en 2020. Hy sê sy is taai, slim, vernuwend en almal bewonder en respekteer haar.
# Tennis: Die Wimbledon-kampioen van Tsjeggië, Barbora Krejcikova, het die Amerikaner Coco Gauff geklop en deurgedring na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad, Saoedi-Arabië. Haar sege beteken die verdedigende kampioen, Iga Swiatek, is uitgeskakel al het sy die Rus, Daria Kasatkina, in haar laaste groepwedstryd verpletter. Krejcikova kom in die laaste vier teen Qinwen Zheng van China te staan terwyl Gauff en die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, sake uitspook. Krejcikova sê Zheng gaan ʼn gedugte teenstander wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-841-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-698-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: Adjunkpresident Paul Mashatile woon vandag die inhuldiging van Botswana se nuwe president, Duma Boko, by die Nasionale Stadion in Gaborone by. Die Botswana Demokratiese Party wat in verlede week se verkiesing uit die kussings gelig is, het dié Suider-Afrikaanse land met sy 2,3-miljoen inwoners sedert 1966 na sy onafhanklikheid van Brittanje regeer. Boko, wat hoof van die Umbrella for Democratic Change is, het ʼn volstrekte meerderheid in die Parlement. Die presidensie sê Suid-Afrika en Botswana het sterk politieke, ekonomiese en sosiale bande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….